Welgens, Martinus Wessel [Willie]
[20 September 1918 - 4 Junie 1973] |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Willie, soos hy alombekend was, is op 20 September 1918, in Brakpan gebore. As kleuter het sy musiektalent al begin deurskemer. Op die ouderdom van ses het hy al sy eerste openbare optrede met 'n mondfluitjie op 'n skoolkonsert gehad! Kort hierna het hy die kitaar bemeester en een van ons grootste konsertinaspelers van weleer was op pad om beroemd te word.
Kort hierna het Willie met die konsertina begin en dit was gou duidelik dat hy 'n gebore konsertinaspeler was. Op 18-jarige ouderdom het hy sy eerste plaat, naamlik die beroemde treffer Suikerbossie, gemaak. Hierdie plaat was van meet af 'n groot sukses en later het Willie sy orkes na hierdie gewilde plaat vernoem, naamlik die Welgens Suikerbossie Orkes. In 'n program, "Baanbrekers van Boeremusiek", wat die SAUK op 6 Januarie 1969, uitgesaai het, het Willie gesê dat die opname van Suikerbossie vir hom die grootste opwinding in sy musiekloopbaan was. Hy vertel toe die opname Willie Welgens vir hulle teruggespeel is (daardie dae was dit nog op wasplate opgeneem), het hy 'n onbeskryflike gevoel gekry . . . Dit was vir hom mooi, lekker, aangenaam en opwindend. In sy herinneringe was dit altyd een van die hoogtepunte van sy lewe. Formele musiekopleiding het hy nooit gehad nie. Toe hy vir Hendrik Susan begin speel het, het hy 'n paar kitaarlesse by Rupert Meyer gekry en ook geleer om musiek te lees. Dit het hom later baie gehelp in sy musiekloopbaan. Naas die konsertina kon hy die volgende instrumente bespeel: kitaar, mondfluitjie, basviool, banjo, klavier en trekklavier. Na die maak van sy eerste plaat, het hy by Gallo (Afr.) in hulle kitaarfabriek begin werk wat aan die ateljees in Troystraat gegrens het. Hy was dus ook byderhand as begeleier vir verskillende orkeste en sangers. Hy het Dawid de Lange dikwels begelei wat op daardie stadium baie plate gemaak het. Willie het ook soms saam met Hansie van Loggerenberg gespeel, maar dit was hoofsaaklik op danse. In 1938 het Willie by Hendrik Susan se orkes aangesluit. Hulle het 'n kontrak opgestel wat mevrou Welgens later aan Hans la Grange gegee het. Sy het nooit weer iets van hierdie kontrak gehoor nie, want Hans het gesê dat hy dit vir sy museum gaan hou. Saam met Hendrik het hulle die land deurreis en vir lang tydperke in Kaapstad gebly waar hulle koffiehuiskonserte en radio-uitsendings aangebied het. Hulle het ook baie geld vir die Reddingsdaadbond ingesamel. Ons dank mevrou Babs Welgens vir al hierdie inligting. Sy vertel verder dat sy destyds in Kaapstad gewerk het toe die orkes daar doenig was. Sy het in 'n losieshuis in Oranjestraat gewoon en Willie het ook daar kom bly. Hulle het bevriend geraak en is 10 Julie 1943, getroud. So 'n jaar of twee daarna het Willie die swerwersbestaan vaarwel toegeroep alhoewel hy nog dikwels saam met Hendrik opgetree het as die geleentheid hom voorgedoen het of as Hendrik hom nodig gehad het. Mevrou Welgens sê dat Hendrik altyd soos 'n ware heer opgetree het. Sy praat met groot lof van hom. Hierna het Willie net vryskutwerk gedoen. Hy het lank saam met Freddie Fischer gespeel en omtrent tien jaar lank ook by die Rosemarie Dansklub. In 1945 het hy konsertina vir Freddie gespeel toe die SAUK 'n boeremusiekwedstryd oor die radio aangebied het. Hulle orkes, naamlik nommer 13, se uitsending was op 23 April en hulle het met die louere weggestap! Die wenorkes het toe weer daarna oor die radio opgetree en daar is drie transkripsie-opnames van hulle musiek gemaak. Mevrou Welgens het nog hierdie opnames in haar besit en is beslis dat dit van haar waardevolste besittings is. Net na hierdie kompetisie het Gerrie Bezuidenhout, wat destyds by Meteor Plate gewerk het, Willie kom spreek en hom gevra om 'n langspeelplaat daar te maak. Hy het ingewillig en so gebeur dit dat hy altesaam vier langspeelplate by daardie maatskappy maak. Willie het teenoor sy vrou erken dat dit nie lekker was om die langspeelplate by Meteor te maak nie, want elkeen het sy eie mikrofoon en oorfone gehad en kan hy nie "lekker gees vang" nie. In die ou dae het die hele orkes blykbaar om een mikrofoon gespeel. Vandag het elke speler sy eie mikrofoon tydens opnames en hulle sit vêr van mekaar sodat die mikrofoon nie die ander instrumente se klanke kan opvang nie. Elke speler het dan ook oorfone waarmee na die ander orkeslede se musiek luister word. Soms is hulle afgehok in klankdigte ateljees en kan nie eens al die ander spelers sien nie! Willie het baie van die ou musikante geken, waaronder: Hendrik Susan, Freddie Luyt, Freddie Fischer, Jimmy Boonzaier, Eddie Wyngaardt, Tienie Coetzer, Nico Carstens, Sam Petzer, Willie Bauscher, Neels Steyn, Louis Lotter, Jannie Nel, Corrie Nortje, Fanie Bosch, Hansie van Loggerenberg en baie ander. Mevrou Welgens het my 'n bladsy uit 'n notaboek gewys waarop Willie aangeteken het wie hom op die 78-spoedplate begelei het. Hulle was:
Van Willie se bekendste komposisies, wat ook in sy eie handskrif opgeteken is, is:
Willie het natuurlik ook vir Chris Blignaut begelei tydens die opname van Leentjie. Hy het die konsertina meesterlik bespeel en George Abrahams was net eenvoudig briljant met sy banjo. Willie het die gawe gehad om die Engelse dansliedjie meesterlik met die konsertina na te speel. Hy kon die moeilike Tico Tico, Margie, The umbrella man, Whispering en talle ander met gevoel en met 'n opgewekte ritme, foutloos speel.
Al die hedendaagse spelers is dit eens dat Willie werklik 'n uitstaande speler was en, gemeet aan vandag se staandaarde, beslis baie goue plate sou verdien het, want hy het baie treffers gemaak! Hier volg 'n lys van 78-spoedplate wat hierdie begaafde musikant vir ons nagelaat het:
Behalwe waar Chris Blignaut gesing het, het Dawid de Lange al die sangdele wat op hierdie plate voorkom, behartig. Willie is op 4 Junie 1973, oorlede. Hy is veras en sy as is oor Brakpan se tuine gestrooi. Hierdie groot seun van ons volk het beslis 'n groot bydrae tot ons volksmusiek gelewer. |