de Lange, Johannes Petrus [Silver]
Johannes Petrus (Silver) de Lange was die leier van die Vyf Dagbrekers. Hy is op 14 Julie 1904, gebore en is op 18 Desember 1956, oorlede. Daar word beweer en algemeen aanvaar dat hy sy bynaam verdien het as gevolg van die skoon en suiwer klanke wat hy uit die konsertina kon tower.
Die Klub kon aanvanklik nie 'n foto van hierdie man in die hande kry nie, maar Danie Labuschagne het dit tog reggekry! Sommige mense wat beweer het dat hulle Silver goed geken het, het gesê dat die man op die foto hiernaas, nie hy is nie. Danie het na baie moeite tog Silver se familie opgespoor wat bevestig het dat dit wel 'n foto van hom is. Ons is dus baie ingenome met die feit dat ons hierdie foto nou kan bewaar vir die nageslag. Agterna was daar weer bewerings dat dit nie Silver op die foto is nie.
Silver de Lange is regs op die foto langs die Artillerie vlag
[Foto Kopiereg voorbehou]
Behalwe die orkeslede wat die Vyf Dagbrekers gevorm het, het Blackie Swart (kitaar) en Harry Garbers (banjo) ook by tye saam met hom gespeel.
Gemeet aan die hedendaagse standaarde en volgens die huidige eksponente van boeremusiek, was Silver een van die beste spelers van die pioniergroep. Ons wil nie, en dis ook nie ons taak om hierdie orkeste teen mekaar op te weeg nie, ons wil maar net graag hierdie man se besondere talente probeer beklemtoon. Om verder hierdie bewerings te staaf, kan daar met alle eerlikheid gesê word dat die meeste van die hedendaagse spelers nog steeds kleitrap om sy komposisies foutloos te speel!
As 'n mens na die titels van hierdie groot man se werke kyk, kom jy dadelik tot die gevolgtrekking dat daar iewers in sy lewe, moontlik liefdeslewe, iets moes gebeur het wat hom baie moes beïnvloed het. Mymer gerus maar oor die volgende titels:
Het jy my nog lief?
Ek het jou Lief
My mooi rooibekkie
Jy breek my hart
Dink aan my
Een druk en een soen
Moenie so maak nie
Ek verlang na jou
Vêr in die Vrystaat by jou
Hoekom het jy my laat staan?
Hy was ook 'n baie goeie kitaarspeler en het gelukkig vir ons een plaat nagelaat wat hy met hierdie instrument gemaak het, naamlik:
Lente op die plaas Verlief op Jou |
His Master's Voice GX 251 |
Jimmy Henning het die graf van hierdie ou meester opgespoor in Wespark, Johannesburg. Hierdie briljante speler en komponis van boeremusiek kan tereg vergelyk word met Stephen Foster, wat ook in 'n armmansgraf weggelê is.
Bobby Pennells deel ons mee dat Silver 'n perfeksionis was. As 'n kitaar of banjo nie suiwer ingestel was nie kon hy baie moeilik word, en as 'n speler verkeerde akkoorde speel, of tyd verloor, het hy sommer sy konsertina toegevou en 'n draai gaan loop. Hy het graag sy manne met raad en daad bygestaan, maar dan moes hulle werklik probeer het om net hulle beste te lewer. Hy het nie van brouwerk of 'n afskepery gehou nie. Net die beste was goed genoeg vir hom. As hy lekker gespeel het, was sy oë altyd toe en 'n groot glimlag het op sy gesig verskyn. Die manne het dan geweet dat hy tevrede was met hulle begeleiding.
Die gewone musikante kon nie maklik saam met hom speel nie. As hulle drooggemaak het, het hulle sommer dadelik aangevoel dat die ou meester nooit met hulle pogings tevrede sou wees nie. Almal kon dan ook aan hom sien of aanvoel dat hy nie graag saam met hulle wou of kan speel nie.
Hy en sy broer Gert was kundige mense en het ook 'n kitaar eiehandig gebou, waarmee hulle lank gespeel het. Bobby, 'n meubelmaker van beroep, het nog destyds die hout vir die kitaar vir hulle gegee. Silver was nooit getroud nie en het met musieklesse sy daaglikse brood verdien. Musiek was feitlik die alfa en omega van sy lewenspatroon.
U sal nog onthou dat daar 'n dispuut was oor die foto op die omslae van die heropge- neemde plate van Silver. Sommige mense het beweer dat dit nie sy foto is wat op die omslae verskyn nie. Bobby het bevestig dat inderdaad dit Silver was.
Silver het natuurlik ook saam met Gerrie Snyman en sy Silwerspelers opgetree. Hulle het 'n hele paar plate saam gemaak.
Boeremusiekliefhebbers, ons is opreg bly dat ons op die 19e Oktober 1985, 'ngedenksteen vir Silver de Lange kon oprig en sodoende 'n klein bydrae kon lewer om te verhoed dat sy naam in die vergetelheid sal verdwyn nie.