Baanbrekers, Die

Die Baanbrekers het uit die volgende drie lede bestaan:

Joe Hooneberg (Leier) : Konsertina
Rupert Meyer : Kitaar
Dan Scholtz : Banjo

Op 7 September 1978, was oom Piet Bester in verbinding met meneer J.J. Hooneberg van Kerkstraat 694, Proklamasieheuwel, Pretoria, die oudste seun van Oom Joe. Volgens hom is Oom Joe op 10 November 1877, gebore en is op 25-jarige ouderdom in 1902 getroud.

Volgens klein Joe kon sy vader feitlik alle musiekinstrumente bespeel, maar het veral uitgeblink met die konsertina, orrel, klavier, banjo en viool. Hy het glo nie in 'n mondfluitjie belanggestel nie. Hy het 'n duet-konsertina gehad met twee en vyftig klawers aan elke kant. Dit is daarom nie 'n wonder dat hy so 'n hoogstaande virtuoos was nie!

Oom Joe het baie van gewere en jag gehou, maar het altyd sy musiek eerste gestel. Hy het al in 1920 'n orkes op die been gebring en gou bekendheid verwerf. Hierdie orkes was van die eerstes wat plate gemaak het. Inligting is verkry dat hulle nie eintlik op danse en ander gesellighede as 'n orkes opgetree het nie. Hulle het slegs saamgespeel wanneer hulle plaatopnames gemaak het. Die twee musikante wat Oom Joe begelei het, was van uitstaande gehalte. Hulle kan vandag nog met ons bestes vergelyk word. Dan Scholtz het altyd 'n tenoor Vegaphone banjo gebruik en Rupert Meyer het wonderbaarlik aangepas by die styl van Oom Joe. Hulle pragtige korrekte akkoorde is 'n plesier om na te luister. Baie van ons hedendaagse spelers beskou hierdie groepie as van ons beste musikante van weleer. Baie van hulle nommers word vandag nog gehoor en sal vir die ware liefhebber
altyd immergroen bly. Hulle bekendste nommers is Sannie gee my brood, Die Baanbrekers wals, Onder die Afrikaanse Maan, Die Veleta wals, Pietersburg settees en vele ander. Ek is van mening dat as enige liefhebber mooi gaan stilsit en luister na Onder die Afrikaanse Maan hy sommer vanself sy eie woorde vir hierdie pragtige melodie kan maak! Oom Joe se konsertina kon regtig met 'n mens praat! Dit is net 'n groot jammerte dat baie van hierdie unieke nommers later deur jonger musikante verwerk is en toe ook sommer nuwe name in die proses gekry het! Sommige van hierdie nommers het self ook nuwe komponiste gekry! Kommentaar oorbodig.

Uit die volgende staaltjie blyk dit duidelik hoe goed Oom Joe eintlik gespeel het. Hy het eendag stoksielsaligalleen met sy konsertina by 'n hotel in Warmbad opgetree. 'n Ou dame wat aandagtig na hom geluister het, het later in ekstase uitgeroep: "Dis dan 'n hele 'band' wat speel!"

Mnr. Johan Burger van Kleinmond het ons meegedeel dat Joe Hooneberg se kleindogter sedert 1988 die plaaslike bibliotekaresse was. Volgens haar het Joe nege kinders gehad.

Ek was baie gelukkig om Dan Scholtz se vrou, Vera, op te spoor. Sy kon baie inligting oor hom verskaf. Daniël Francois Scholtz is op 16 April 1910, op Vrede in die OVS gebore. Hy is later saam met sy ouers na Oos-Afrika, nou Kenia, waar hy skoolgegaan het. Sy ouers het na 'n tyd teruggekeer na Vrede en Frank, soos hy destyds bekend was, in Kenia agtergelaat om sy skoolopleiding te voltooi. Hy en twee vriende - hulle was almal in matriek - het egter besluit om na Suid-Afrika toe weg te loop. Hulle ouers was baie ontsteld. Een van die drie het gelukkig na sy ouerhuis gegaan en toe het die soektog na Frank en sy maat begin. Hulle is in Durban op 'n skip opgespoor waar hulle besig was om die vloere te skrop! Hulle was van voornemens om op die skip te werk om sodoende romantiese plekke in die buiteland te gaan besigtig. Hulle is summier huis toe geneem en Frank is na Boshof se hoërskool gestuur wat in daardie tyd bekend was vir die streng dissipline wat daar gehandhaaf is. Hy het die matriekeksamen geslaag en sy vader het hom Wits toe gestuur waar hy hom as 'n ingenieur sou bekwaam. Na ses maande het hy egter aan sy vader gese dat hy niks daar geleer het nie behalwe hoe om die ukulele te bespeel! Sy vader het hom toe in sy winkel laat werk en gou het hy 'n groepie bymekaargemaak en hulle het musiek in die dorp verskaf. Hy het ook byklanke verskaf in die plaaslike bioskoop. Hy was baie musikaal en het die banjo maklik bemeester en daarna het hy die klavier begin speel.

Vroeg in die dertigerjare - as gevolg van die depressie - het hy 'n betrekking by die Landbank in Pretoria aanvaar. Hy was nog gedurig doenig met die banjo en hier het hy ook vir Hooneberg en Meyer ontmoet. Hulle het toe pragtige plate gemaak.

In Pretoria het Frank se vriende hom Dan genoem en hy het hierdie naam behou tot en met sy afsterwe op 17 September 1978. In Pretoria het Dan in verskillende orkeste gespeel maar het vir jare in 'n "rhythm band" gespeel. (Die orkes was onder leiding van Mnr. Plato Michael wie se besigheid "Michael se plaatopnamediens" die grootste gros van die ou 78-spoed plate vir ons herwin het.) Hy het toe ook die saksofoon bemeester en kon dit baie goed speel. Volgens Vera kon hy feitlik enige instrument bespeel behalwe die viool. In 1939 is hy na Potchefstroom verplaas. Hy het nog gespeel maar ook 'n fotografiese besigheid begin. Hy was baie lief vir fotografie, swem, visvang, pluimbal en motorresies. Hy was goedgemanierd, vriendelik, vollewenslus en 'n groot optimis wat altyd hoe ideale gekoester het.

In 1945 het hy weer na Pretoria teruggekeer waar hy sy eie fotografiese besigheid geopen het. Hy het toe weer by die bekende "Michael's Rhythm Band" aangesluit. Vanaf 1958 het hy by verskeie eiendomsagente in Pretoria gewerk.

Vera se dat hulle 'n ou foto van die Baanbrekers gehad het wat by 'n ossewa gesit het, maar dat sy ongelukkig die foto nêrens kan opspoor nie.

Hier volg 'n lys van hulle plate:

Sannie gee my brood - settees
Vat jou goed - polka
Columbia AE 509
Vaalrivier-wals
Ek het jou lief-polka
Columbia AE 510
Portugees-wals
Reisiesbaan-setties
Columbia AE 511
Soetlief-wals
Jamkoek-polka
Columbia AE 512
Donker maan-wals
Perdewa-polka
Columbia AE 517
Bietjie Bees - mazurka
Roksak - medley
Columbia AE 518
Daar langs die grootpad - barn dans
Die mooi blom (sonder konsertina)
Columbia AE 546
Die baanbrekers-wals
Piccanin - barn dans
Columbia AE 562
Aand Mymeringe - wals
0 my ma - polka
Columbia AE 572
Onder die Afrikaanse maan - wals
Pietersburg-setties
Columbia AE 575
Hier is ek weer
Jopie-setties
Columbia AE 576
Hoe blink is die maan - wals
Pollie
Columbia AE 577
Bruid se setties
Mooi rivier-polka
Columbia AE 578
Die Veleta
(Op die keersy is 'n ander orkes)
Columbia AE 598
Vra vir jou ma
Die Aandblom-vastrap
Columbia AE 607
Ek is ma se enigste kind - wals
Kielie-polka
Columbia AE 608
Daar kom Tant Alie - sonder U
Taaibos-polka
Columbia AE 615

Content type

Group name