Jan Mans

Jan Mans is op 25 Julie 1935 gebore op die plaas Rietvlei-Meyers in die Groot Marico-distrik tussen Marico en Zeerust. Daar het hy grootgeword met boeremusiek en van sy kindsdae af ‘n intense liefde ontwikkel vir die geliefde musieksoort, en onder die wakende oog van sy vader, Oom Piet Mans, dit ook begin speel. Oom Piet was meesterlik met die boerekonsertina, en ook ‘n baie goeie mondfluitjiespeler. So het Jan dus die musiek beleef uit die hand van ‘n meester by die huis, en ook op die transportpad, as hy saam met sy vader gereis het. In 1954, terwyl Jan besig was met militêre opleiding in Potchefstroom, koop hy ‘n vriend wat gesukkel het om sy konsertina te bemeester se instrument by hom vir die “aardige” bedrag van 10 Pond. Die konsertina het egter nie ‘n drakassie (tassie) gehad nie, en Jan moes nog 2 Pond uithaal vir ‘n tweedehandse kassie. Hy het die kassie tot en met sy dood nog gebruik. Oom Jan het in 2007 op 72 jarige ouderdom sy debuut-cd gemaak getiteld “Maricomusiek”, waarop hy die Boere- en Engelsekonsertinas werklik skitterend bespeel.

 

Oom Jan was in die laaste tyd die oudste aktiewe konsertinaspeler in die TBK… iets waarop hy baie trots was. Hy het ‘n aantal solo CD’s opgeneem, en natuurlik ook saam met sy geliefde Outydse Klanke Orkes! Sy laaste cd was getiteld “Oud Maar Nie Koud”, en is voorwaar ‘n meesterstuk van uitstaande konsertinaspel met briljante begeleiding. Die musikante wat hom op diè album begelei het, en natuurlik ook almal lede van die puik Outydse Klanke Orkes is, is Sarel Oertel (akoestiese baskitaar), Hannes Van Loggerenberg (ritme-kitaar), Pieter Du Preez (ritme-kitaar), Phillip Du Preez (banjo) en Hannelie Du Preez (Tjello). Ander lede wat saam met Oom Jan in die Outydse Klanke musiek gemaak het sluit in Henning De Lange en Carel Kleynhans. Oom Jan was ook ‘n komponis van formaat en sy eie skeppinge sluit in “Willie Se Vastrap”, “Sarie Se Vastrap”, “Leeupoort Vastrap”, “Karlientjie Vastrap”, “Outydse Klanke Wals”, “Rita Se Wals”, “Tant Ella Se Wals”, “Remhoogtevastrap”, “Lettie Se Seties”, “Deurmekaar Wals”, “Oom Pieta Se Seties”, “Boet Se Wals”, “Houtwa Seties” en “Ouposwals”.

 

Tydens die jaarlikse IFM 102.2 Bobaas Boere 5 se Kiewiet-toekennings van 2016 word hy vereer met die Legende Status Toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Boeremusiek.

 

In middel Januarie 2021 doen Oom Jan en sy vrou Tannie Grace die gevreesde korona virus op, en op Saterdag, 30 Januarie 2021 omstreeks 11:30, sterf hy in die ouderdom van 85 daaraan.

 

 

Diskografie:
Laserskywe:
* Maricomusiek Van Jan Mans (Met Die Oudag Boereorkes & Lourens Van Zyl Se Orkes) [TBK - TBKSA 01 - 2007]
* Toeka Se Liedjies [Privaat Uitreiking - 2016]
* Boerekonsert (Outydse Klanke) [TBK - TBKCD 33 - 2017]
* Oud Maar Nie Koud (& Die Outydse Klanke Orkes) [TBK - TBKCD 39 - 2018]

Full Name: 
Mans, Jan
Birth Date: 
1935-07-25
Decease Date: 
2021-01-30

Content type

Artists