Hernie Theunissen

Kitaarspeler van die Kaapland Boereorkes:
 
Ek is Hernie Theunissen en gebore 3 Julie 1967 in Ceres. Groot geword op die familieplaas in die Tankwa Karoo.
 
Ek het van kleins af by my pa (wat ook "toevallig" my suster Rolenda se pa, en Janus se Oupa was), geleer musiek maak met die kitaar. My pa was n uitstekende musikant en ek het opgesien na hom, en met sy blik viool was dit 'n ongelooflike reis saam met hom.
 
Ek het baie saam met my pa en my oom Isak gaan kitaar speel op verjaardag, oujaars danse en funksies, terwyl Rolenda die dansbaan warm dans. Boeremusiek is my lewe, ek het oom Japie Laubscher se langspeel plate en kasette deur en deur geluister asook Oupa Jasper en oom Kerrie Bornman.
 
As hulle plate gespeel het, het ek altyd saam gespeel met my kitaar. Later toe my oorlede broer Gleno en Rolenda mooi groot geword het, het ons drie wat die jongste en nog in die huis was soms saam musiek gemaak. En so het my liefde vir Boeremusiek al hoe groter geword.
 
Ek was lid van die Boland Tak se boeremusiek Gilde, hulle het elke jaar 'n funksie in Karoopoort gehou. Dan het ek die voorreg gehad om saam met oom Fanie Du Plessis van die Hartswater Boereorkes te speel, en wat 'n voorreg was dit!
 
Op 'n latere stadium het ek ook op die Grootvoël Boeremusiek fees in Oudtshoorn saam met Theo Slabbert en oom Fanie gespeel. Met oujaar 2015 het ek in Port Nolloth saam met oom Willie Nelson aan huis gekuier en die voorreg gehad om saam met die groot man te speel.
 
Ek het 'n paar keer op aanvraag van die Kaapland Boereorkes uitgehelp as hulle 'n kitaarspeler nodig gehad het. In Julie 2019 was dit 'n voorreg toe Daantjie Kotzé my genader het om 'n lid van die Kaapland Boereorkes te wees. Nou kan ek my liefde vir Boeremusiek ten volle uitleef en geniet.
 
Dankie Kaapland Boereorkes vir die geleentheid...ek ervaar weereens die gevoel van 'n familie wat musiek saam maak.
 
Groete
Hernie
Full Name: 
Theunissen, Hernie

Content type

Artists