Rolenda Heystek

Banjospeler van die Kaapland Boereorkes:
 
My naam is Rolenda Heystek. Gebore 14 Oktober 1971 in Ceres Hospitaal waar Dr. Chris Barnard my "gevang" het as baba. Ek is die jongste van 9 kinders, en het groot geraak op 'n familie plaas in die Tankwa Karoo.
 
Ek is gebore met Tradisionele Boeremusiek in my are...vandat ek kan onthou was dit boeremusiek geëet en geslaap...ek het niks anders geken nie. My pa was omtrent musikaal en kon 'n paar instrumente bespeel.
 
My pa, my oom Isak en my broers Hernie en Gleno het vir baie musiek vermaak gesorg by partytjies en ou jaar danse, maar partykeer was daar nie eers 'n rede nie, dan het ons sommer nou-nou my ouma Mina se kombuistafel weggestoot en gedans en musiek gemaak.
 
My pa kom sommer deurnag musiek maak. Almal het my pa Hans Theunissen geken vir sy blik viool. Sy viool het op 'n stadium gebreek, en so ook sy hart oor sy instrument. 'n Werker op die buurplaas het toe vir hom 'n viool gemaak van 'n GTX olieblik. Die strykstok was van 'n doringboom se tak en die snare vir die strykstok was van perdestert hare, maar meer as een keer moes hy koes vir my ma want soms het hy van haar swart gare gegaps vir dit.
 
Hul het destyds op die radio program "Span die Bokseil" van sy musiek gespeel. Ai, was dit nou lekker om dit op die radio te hoor. My pa het geglo dat 'n musikant gaan nêrens sonder sy instrument nie.
 
My ma het my vertel dat ek as baie klein dogtertjie tussen my pa se bene gestaan het as hy musiek gemaak het. Ek het myself en met hulp van my pa en broer Hernie leer kitaar speel. My pa moes gereeld die kitaar vir my instel en ek was omtrent lastig daarmee.
 
Maar ek het vir jare die droom gehad om banjo te leer speel. Ek het as kind probeer leer speel deur "skelm" my oorlede broer Gleno se banjo te "leen", maar hy het my altyd uitgevang deur te kyk of my vinger afdrukke daar op is.
 
Ek het altyd gesê voor ek 40 word wil ek die banjo speel. Toe ek my oë uitvee word ek 39 en besef ek het nie veel tyd oor nie en dat ek 'n plan sal moet maak! My man Jan het gesê hy koop nie n banjo voor ek dit nie kan speel nie. Ek het toe vir 'n jaar 'n banjo geleen en myself geleer. Op my 40st verjaardag het ek toe my splinternuwe Fender banjo gekry!
 
Ek het in verskeie orkeste gespeel by Boland Gilde tak in die Paarl. In 2013 het ek in Rita Bester se orkes gespeel wat deelgeneem het daardie jaar in die Gilde kompetisie. Haar orkes het gewen in hul kategorieë en ek het gewen as beste banjo speler in my kategorie.
 
Dit was by 'n Gilde werkswinkel waar ek Daantjie Kotzé ontmoet het, begin 2011. Ons het dadelik "gekliek". Later dieselfde jaar het Daantjie my vertel hy beplan sy eie orkes en of ek deel daarvan wil wees. Vandag is hy my boet in elke sin van die woord.
 
Vroeg in 2012, by my eerste TBK funksie, het ek my boeremusiek held ontmoet, wat ook later my "pa Willie" sou word, Willie Nelson van Die Namakwalanders. Soe, wat 'n ongelooflike mens was hy nie! Ek het so baie by hom geleer, veral om ten alle tye jou liefde vir jou musiek en jou instrument te geniet ,maar ook om ten alle tye nederig te bly.
 
Ek was baie verstom en verbaas toe Willie Nelson sy Bastari boerekonsertina aan my nalaat. Nou is dit my volgende droom...om dit te leer speel.
 
My reis met Kaapland Boereorkes is ongelooflik. Dit het my vlerke in boeremusiek gesprei. Ek het so baie geleer en so baie mense geleer ken, musikante van wyd en syd, en ook sommer net mense wat ook net lief is vir Tradisionele Boeremusiek.
 
My wortels lê baie diep en met baie liefde vir my hartsmusiek. Tradisionele Boeremusiek is nou maar eenmaal soos hy "van sy ma afkom".
 
Groetnis en vragte liefde.
Wees geseënd.
Rolenda
Full Name: 
Heystek, Rolenda
Birth Date: 
1971-10-14

Content type

Artists