Bester, Pieter Johannes [Piet]

Pieter Johannes Bester is op 27 Februarie 1926 op Schweizer-Reneke gebore, en hy het hier met sy laerskoolopleiding begin. Hy is die derde seun van ses kinders, almal seuns, van Piet en Mart Bester.
 
Sy ouers was baie musikaal en het pragtig saam gesing. Sy vader was 'n goeie mondfluitjie- en kitaarspeler en het dikwels in sy jong dae saam met die legendariese Sakkie en Gert van Wyk by funksies opgetree. Albei sy oupas, Paul Bester en Jan Roodt, was uiters musikaal en so ook van sy ander familielede.
 
Piet se kinderjare was in die arm-en-maerjare. Sy vader het destyds by die Departement van Besproeiing en Lande gewerk en was onder andere betrokke by die bou van die volgende damme en aanverwante projekte: Hartebeespoortdam, Schweizer-Renekedam, Vaaldam en die Vaalharts- besproeiingskema. Hy het later 'n perseel in Vaalharts bekom waar hy en sy gesin na hulle vele omswerwinge baie gelukkig gewoon en gewerk het. Sy ouers het na hulle aftrede op Warrenton gaan woon, maar is kort daarna albei tragies in 'n motor ongeluk oorlede.
 
Die grootword tydens die maerjare het die seuns in 'n hegte gesin saamgebind, en hulle ware broederliefde en vriendelikheid maak altyd 'n blywende indruk op buitestanders. Al die broers is redelik musikaal en elkeen kan die een of ander instrument bespeel. Sy broer Ben het al plaatopnames gemaak en sy orkes se musiek word dikwels oor die lug gehoor.
 
Piet het van kleins af in musiek belanggestel en veral boeremusiek het 'n groot indruk op hierdie klein, arm en oningewyde kêreltjie gemaak. Sy ouboet Paul het intrumente aangeskaf en gou-gou kon Piet die kitaar bespeel. Later het hy ook die banjo en konsertina baasgeraak.
 
 
Piet Bester as seun met die kitaar saam met sy broer Ben
 
Deesdae het hy die die mandolien en hawaiise kitaar onder die knie gekry. Hy onthou ook nog die name van die manne van wie hy destyds met die oog en oor "gesteel" het: eerstens sy twee neefs, Hans en Willem Bester, dan Gideon van Rooyen, Johnnie Swanepoel en Piet Faber.
 
In sy jondae het Piet baie op Vaalharts gespeel en ook groot pret gehad. Die Volgende staaltjie kom uit dié geweste: hy, sy neef Klaas en Giel Esterhuizen het een aand op 'n bruilof gespeel waar hulle absoluut geen verversings gekry het nie. (In daardie dae was spelers in daardie kontrei nooit eens vir dienste vergoed nie.) Klaas het by dy verloofde, wat saam met hulle was, gekla waarop sy toe aan hom sê dat sy 'n bottel drank in die klerekas gesien het waar die dames hulle jasse en handsakke bêre. Hulle het onmiddelik 'n plan beraam: die meisie moes die bottel gaps en dit deur die venster vir hulle aangee! Alles het vlot verloop en en gou-gou was die drie spelers by die waenhuis in die maanskyn met hulle kosbare voggies! Omdat ou Giel die oudste was, was dit vanselfsprekend aanvaar dat hy die eerste uit die bottel moes drink want daar was natuurlik geen glase of bekers nie. Hy het die prop afgehaal, die bottel omhoog gelig en dit toe in sy keel omgekeer! Hy het onmiddelik begin verstik, begin hoes en was sy asem vir 'n paar sekondes kwyt! Toe hy tot verhaal kom, het hy die bottel weggeslinger en gesê dat hy sowaar gif ingekry het! Hulle het hom dadelik na die waterkanaal geneem waar hy sy mond uitgespoel en sy gesig gewas het. Na 'n paar minute was hy darem kapabel om weer voort te gaan met die spelery!
'n Paar dae daarna het Piet die bruid se ma raakgeloop wat die volgende kommertaar gelewer het: "Jy weet, daar was ook 'n paar varke op die bruilof, want hulle het tot die medisyne wat ek aangemaak het om my seer bene mee te smeer, uitgesuip."
 
Piet sluit in 1948 by die Suid-Afrikaanse Polisie aan en word in Johannesburg gestasioneer. In 1951 word hy na die speurtak oorgeplaas. Hy het op verkeie plekke diens verrig en was ook in 'n stadium aan die Moord- en Rooftak, Pretoria, verbonde waar hy 'n hele paar keer deur landroshowe en ook deur die Hooggeregshof aangeprys is vir uitstaande ondersoekwerk.
 
Piet se agtergrond as handhawer van wet en orde is die onderwerp van baie staaltjies en ook gesekrtsery ten koste van hom. Op 'n vraag oor hoe hy sy suksesvolle loopbaan as speurder begin het, antwoord Piet: "Ek het eendag 'n vulpen in die straat opgetel en toe hulle (die offisiere) nuwe speurders soek, besluithulle dat as dié man 'n vulpen het, dan moet hy kan skryf, en dit is goed genoeg om speurder te word!"
 
In 1981 word hy na Gazankulu se polisie gesekondeer waar hy opdrag kry om 'n speurtak op die been te kry, wat hy ook uiters suksesvol gedoen het. By aftrede het hy die rang luitenant-kolonel beklee.
 
Piet het altyd 'n gepaste antwoord of verklaring gereed; behalwe een aand na ons die uitslag van die eerste kompetisie vir tradisionele boereorkeste in die ateljee van die SAUK te Silverton aangehoor het. Die wenners, Oudagorkes, Piet en ander gaste het ha die huis van Dr. Ed Retief verkas om die oorwinning te vier. Terwyl die maplotter-bure 'n potjie voorberie het, het Dr. Retied 'n gedeelte van 'n voorraad mampoet uit die "oog" verwyder. Een kas is egter netjies op sy plet gelaat, en toe die musikante begin "gryp", het Piet homself neffens dié kas ingerig en selfs sy kop daarteen gestut terwyl hy die banjo se snare meesterlik laat sing.
Hy drink self niks sterker as 'n koeldrank nie en na die feesviereing wou Ed van hom weet: "Oom Piet, sou jy sê dat jy op jou dag'n goeie speurder was?" waarop hy "Ja!" antwoord. Die verbasing op sy gesig en gebrek aan toevoegings was merkbaar toe hy ingelig word: "Ek glo nie so nie, oom Piet, want jy het die hele aand binne sentimeters vna die grootste opslag mampoer in jou loopbaan gesit en speel sonder om onraad te bemerk!"
 
Op 12 Maart 1981 was Piet Bester, in die kantore van die SAUK in Johannesburg, een van die stigterslede van die Tradisonele Boeremusiekklub van Suid-Afrika. Hy het die amp van sekretaris beklee en was instrumenteel in die eerste projek van die klub nl. om 'n grafsteen vir Faan Harris, die leier van die Vier Transvalers, op te rig. In die jare 1987-1989 laat hy 10 uitgawes van die TBK se lyfblad Vastrapper die lig sien.
 
 
 
Hannes Viljoen (links) en Piet Bester (regs) tydens die TBK AJV te Saamstaan vakansie oord, 5 Nov 1983
 
Vanweë sy intense belangstelling in boeremusiek het hy oral in biblioteke en in museums navraag gedoen om meer daaroor te wete te kom, maar hy kon feitlik geen inligting opspoor nie. Gevolglik besluit hy om self navorsing te doen en sodoende versamel hy materiaal wat lei tot die publikasie van sy eerste boek in 1987: Tradisionele Boeremusiek - 'n Gedenkalbum.
 
 
 
Hy beself egter dat sy studie slegs die korsie van 'n baie uitgebreide onderwerp aangeroer het, en hy begin dadelik met navorsing vir 'n opvolg. In 1993 verskyn Boeremusiek - 'n Tweede Gedenkalbum met verwysings na ongeveer 190 musikante en 'n verdere 60 musikante word opgeteken in Boeremusiek - 'n Derde Gedenkalbum wat verskyn in 2003.
 
 
 
Daar is baie fasette van Piet se karakter waarmee 'n mens kennis maak: musikant, komponis, humoris, storie verteller, wysgeer, skrywer, lojale vriend, minsame mens, en soveel meer dat hy op elkeen wat hom kontak het, 'n blywende indruk laat.
 
Corrie Badenhorst vertel dat hy en Nic le Roux, 'n kitaarspeler, een aand in 1971 in Pietersburg reëlings getref het om die "sogenaamde" konsertinaspeler te ontmoet en op die proef te stel. Op sy beskeie manier het Piet eers sy gashere 'n kans gegee om 'n paar nommers te speel voordat hy hulle met sy konsertinakuns verras het. Dié bymekaarkomplek was dan ook die begin van Piet se orkes, die Mopani's.
 
Alhoewel baie musikante oor die jare heen gekom en gegaan het, is 'n hegte vriendskap tussen Piet en Corrie opgebou. Hulle het baie aande saam in Piet se motorhuis gespook om nuwe nommers onder die knie te kry. Piet se standaarde is hoog, en as hulle die keer baie moes sukkel om 'n wysie reg te skaaf, het hy gedreig om sy konsertina stukkend te sny!
 
Vanaf 1976 het sy orkes gereelde radio-uitsendings gedoen en een transkripsieplaat gemaak. Hy het ook opnames vir ongeveer 14 langspeelplate gemaak en sy styl met sowel pompie as die banjo is baie kenmerkend. Hy is lid van SAMRO en die volgende is van sy bekendste komposisies:
 
Vaalharts Verlange
Vasvat, ou Hans
Boet Ben se vastrap - opgedra aan Ben Bester
Pietersburg se blommetjies
Spelonk Vastrap
Oom Faan se vastrap
Polla se settees
Ou Neels se wals
'n Deuntjie vir Danie - opgedra aan Danie Labuschagne
Ver in die ou Vrystaat
Neef Corrie se wals - opgedra aan Corrie Badenhorst
Soebat settees
Moenie Doenie - opgedra aand Danie Grey
Die wa bly staan in Taaibosspruit
Piet het die regsbeginsel dat die beskuldigde die voordeel van die twyfel ontvang in sy lewensfilosofie ingeruim. So byvoorbeeld gun hy elke musikant. 'n plekkie in die sone en gevolglik trag hy om altyd iets positief in 'n ander man se musiek te hoor, eerder as om hom af te kraak. Sy meesterlike aanslag op die banjo, gemoedelike lewensuitkyk en altyd teenwoordige humor maak van Piet 'n gesogte uitgenooide by alle boereorkeste waar hy dan gewoonlik die vlak van musiek merkbaar aanhef. Die feit dat hy nooit die spel met die sterk klanke van sy banjo probeer oorheers nie, reflekteer Piet se beskeie karakter.
 
In Pietersburg is Piet se orkes gereeld betrokke by byeenkomste vir liefdadigheid, en vanweë sy besondere rapport met die "oumensies" tree hulle by ouetehuise op om die bejaardes op te beur. Aan die ander kant van die ouderdomspektruk, het hy die jeug aan die klanke van tradisionele boeremusiek voorgestel deur lesings by skole aan te bied en musiekaande te reël.
 
Hy het ongeveer 50 vergrotings van boeremusikante se fotos aan die Pietersburgse museum geskenk en in sy eie studeer- en musiekkamer hang sowat 80 fotos van ou veterane van die boeremusiekwêreld. Hy sê altyd dat hy tussen sy vriende en hulle musiek die lekkerste kan werk en lewe, wat 'n moontlike verklaring vir sy huis se naam, Piet se spelonk, bied.
 
Daar bestaan geen twyfel dat Piet Bester se lewenstaak aangedryf is deur 'n onblusbare liefde en geesdrif vir tradisionele boeremusiek en 'n intense belangstelling in alle aspekte van die Afrikaner se volksmusiek nie. Die vrugte van sy arbeid sal dus moeilik geëwenaar word.
Soos die spits van die ysberg, verteenwoordig die bostaande sketse slegs uittreksels uit die vol en ryk lewe van 'n groot kampvegter vir boeremusiek.
 
Dr. Ed Retief

 

Full Name: 
Bester, Pieter Johannes [Piet]
Birth Date: 
1926-02-27
Decease Date: 
2006-09-05

Content type

Artists