Bosch, Stephanus (Fanie)

Birth Date:
1925-12-06
Decease Date:
1980-11-28

Hy is op 6 Desember 1925, gebore en dat hy van kleins af lief was vir duiwe en musiek. Toe hy net ses jaar oud was, het hy 'n paar van sy spogduiwe aan Piet Rademeyer verruil vir 'n ukulele. Hy het dit gou bemeester en daarna die traporrel, kitaar en banjo baasgeraak. 'n Rukkie later het hy 'n boerekonsertina in die hande gekry en die gort was behoorlik gaar! Hy het dit in 'n jagtrap leer speel waarna hy 'n driery Wheatstone bekom het.

Op 9-jarige ouderdom was dit reeds baie duidelik dat hierdie jong seun 'n buitengewone musiektalent het. Hy het die moeilike konsertina sommer vanself leer speel en kon enige deuntjie op gehoor dadelik speel. Om hierdie "wonderkind" se talente verder te illustreer, moet vertel word dat hy op 11-jarige ouderdom aan sy eerste lewendige radio-uitsending deelgeneem het! Hy was begelei deur twee van sy broers, Hendrik, banjo en Piet, kitaar.

Fanie se moeder vertel dat die bekende Coopers, Cissie en Willie, Fanie na sy eerste uitsending baie keer by die huis kom haal het vir ander uitsendings in Pretoria en Johannesburg. Een program waarin hy opgetree het, was die destydse "Kinderhoekie". Sy ma was in die begin bekommerd oor die uithuisigheid maar het later daaraan gewoond geraak. Sy sê Fanie het altyd na die uitsendings teruggekom met sakke vol vrugte, lekkers en sommer baie geld! Die Coopers het hom die "wonderseun" genoem. Toe sy broers en vriende besef dat hy baie geld het, het hulle gereeld by hom kom leen. Hy was nooit suinig nie en almal het in sy sukses gedeel! Hy het ook mooi duiwe aangeskaf en was veral lief vir tuimelaars. Fanie het sommer oornag gewild geword, en het byna elke aand gespeel sodat hy soggens swaar opgestaan het vir skool! Sy onderwyseres - wat nooit bewus was van sy buitengewone musiektalent nie - het hom dikwels aangespreek wanneer hy vaak en moeg voorgekom het. Jare later het hy op hierdie onderwyseres se dogter se bruilof gespeel! Hierdie onderwyseres - wat toe eers bewus geword het van sy prestasie - het hom om verskoning gevra omdat sy hom altyd so baie in die klas uitgetrap het.

foto hier

Fanie Bosch se moeder en Piet Bester tydens die onthulling Faan Harris se grafsteen van

Fanie se dat hy nooit enige lesse of onderrig gehad het nie en dat hy maar self moes sukkel om die konsertina te bemeester. Met sy deursettingsvermoë en uitstaande talent, kon hy egter ontwikkel in een van die beste konsertinaspelers wat die land nog opgelewer het.

Fanie was nog in sy vroeë twintigs toe hy en 'n vriend, Eddie Kriel, een Saterdagaand na 'n koffiehuiskonsert in Pretoria gegaan het. Pieter de Waal het die program aangebied en Hendrik Susan en sy orkes het die musiek verskaf. Later die aand het Eddie vir Hendrik gevra of Fanie ook so 'n bietjie kon speel. Hy was nie baie ingenome met die idee nie, maar stuur tog vir Tienie Coetzer, die bekende banjospeler na Fanie met die boodskap dat daar besluit is dat Fanie tog een nommertjie kon speel. Fanie het bly aan Tienie gesê dat hy selfs met 'n halwe nommertjie tevrede sou wees. Die orkeslede, wat toe reeds beroemd was en regtig goeie musiek gespeel het, was nie juis oorgretig om saam met die onbekende jong snuiter te speel nie. Op hulle vraag wat hy gaan speel, antwoord hy Tico- Tico. Hulle was baie verbaas dat iemand hierdie nommertjie, wat werklik vinnig en uiters moeilik is, met 'n konsertina wou aandurf! Fanie begin speel en die klomp ervare musikante besef onmiddellik dat hierdie mannetjie 'n bekwame en briljante virtuoos is. Sy styl, tegniek en inskakeling by die orkes was verfrissend. Hierdie optrede het daartoe gelei dat Fanie die volgende Maandag sy eerste plaat saam met Hendrik Susan en sy orkes gemaak het!

Fanie het destyds 'n drie-en-'n-half-ry konsertina gehad wat nie presies dieselfde toonhoogte as Nico Carstens se trekklavier gehad het nie. Tydens die opname van hierdie nommer het Nico toe kitaar gespeel! Fanie onthou ook goed hoe hierdie orkes saamgestel was: Jurie Ferreira, ook kitaar, Tienie Coetzer, banjo en Eddie Wyngaardt (die bekende saagspeler), bas.

Fanie het kort na sy fabelagtige opgang in die musiekwereld sy regterwysvinger se eerste twee litte met 'n besering verloor. Hy het 'n steen agter 'n vragmotor, wat in die modder vasgesit het, se agterwiel probeer regskuif toe dit begin loop het en sy vinger beseer het. Die wond het septies geword en die eerste twee litte van sy vinger moes afgesit word. Hy kon nooit weer hierdie stompie op die konsertina gebruik nie. Om hierdie man se durf, vaardigheid en kundigheid te illustreer, moet die volgende vertel word: Terwyl hierdie geamputeerde vinger nog in gips was, het hy 'n radio-uitsending saam met Fred Luyt gedoen! Dis feitlik onmoontlik om 'n konsertina sonder die gebruik van 'n wysvinger te speel, maar hy kry dit reg en boonop terwyl dit in gips is! Dis die waarheid! Ek het 'n foto van die orkes tydens hierdie uitsending gesien en die verbinde vinger is duidelik sigbaar! Om alles te kroon, het hy nog die Seervinger wals gekomponeer en daardie aand uitgesaai!

Fanie het natuurlik van jongs af sy eie orkes gehad. Hy het ook tydens uitsendings van "Bog met Bloumaandag" en "Sommer vir die pret", saam met Fred Luyt en Hendrik Susan opgetree. Hy het ook op 'n stadium saam met Hendrik Susan getoer en baie van ons mooi land gesien.

Hy het baie gekomponeer en baie plate by Gallotone, Trutone, Columbia en Troubadour gemaak. Hy sê dat hy so baie gekomponeer het dat hy later nie meer name vir die liedjies gehad het nie. Hy het eers sy susters en daarna vriende vernoem. Later het hy die telefoongids geneem en name daar uitgesoek. Hy het ongeveer 130 komposisies agter sy naam en die hoeveelheid 78-spoedplate wat hy gemaak het, kan hy glad nie onthou nie.

Toe hy Fanie se wals gemaak het, was Chris Blignaut ook in die ateljee. Toe die opname begin, praat Chris onverwags: "Hoor vir Fanie hoe breek hy hulle harte met 'n lekker ou wals." (Vroeër het ek altyd gewonder wie op hierdie opname so praat.) Hy sê ou Chris het altyd iets gesing waarvan 'n gedeelte van die woorde so lui:

"Die kierie met die koperknop -
Ons ry hierlangs en ons steek 'n dop".

Hy kon nie sê of hierdie liedjie ooit op plaat opgeneem is nie. Op 'n vraag hoe hy komponeer, antwoord hy dat dit sommer vinnig kom. As 'n melodie in sy gedagte opkom, kon hy dit onmiddellik speel! Hy vertel dat hy en sy orkes eendag besig was om 'n nuwe langspeler te maak. Terwyl hulle besig was om te speel vir die opname het 'n nuwe deuntjie in sy kop gekom. Toe die volgende nommer opgeneem moes word, het hy die sleutel waarin hy wou speel en die ritme aan sy orkes gegee en weggeval met die nuwe stuk. Hy sê dat dit verbasend goed gegaan het en dat die stuk foutloos opgeneem is! Sy banjospeler, Ou Banjo Botha, was glo byna rasend van frustrasie! Hy kon dit net nie verstaan hoe so iets ooit gedoen kon word nie!

Hy het ook in sy loopbaan baie van die ouer garde ontmoet: Dawid de Lange, Jannie Stapelberg, George Abrahams, Piet Steenkamp, Kwalla Schuster en talle ander.

Van sy mooiste herinneringe is dat hy op jeugdige leeftyd saam met Joe Hooneberg kitaar gespeel het in die West End-saal in Pretoria. Hy het Oom Joe goed geken en is van mening dat hy ons beste konsertinaspeler van weleer was. Hy het dan ook baie van hierdie uitmuntende speler se nommers gespeel, verwerk en op plaat opgeneem. (Dis baie jammer dat sommige van hierdie nommers in die proses ook ander name gekry het. Baie van die spelers van daardie jare het dieselfde fout gemaak.)

Hy het ook Herman Wolfswinkel, 'n uitstaande speler, goed geken. Ek het Fanie uitgevra oor Herman se spel en sy antwoord was: "Hy ken sy ambag (seker met die konsertina) en weet wat hy doen! "

Fanie het natuurlik ook twee swaers wat beroemde musikante is: Theo Erasmus en Nico van Rensburg. Hulle is met susters van hom getroud. Hierdie twee here het geen bekendstelling nodig nie.

Hans la Grange en Fanie was ook goeie vriende. Fanie het dikwels vir Hans op Magaliesburg gaan kuier waar hulle aangename tye in mekaar se geselskap deurgebring en sommer baie musiek gemaak en gepraat het. Ek wonder net of die volgende episode ook so aangenaam vir Fanie was? Op so 'n besoek aan Hans (hy was 'n mediese dokter) het Fanie oor tandpyn gekla. Hans het hom ondersoek en daar en dan besluit dat al sy tande onmiddellik getrek moes word! Fanie het teëgestribbel, maar Hans het volgehou dat alles moes uit! Om 'n lang storie kort te maak - al die tande is dadelik getrek! Toe Fanie later by die HF Verwoerd-hospitaal medisyne gaan vra vir die pyn, het die dokter wat hom ondersoek het gesê dat die "tandarts" wat sy tande getrek het maar baie rof te werk gegaan het! Hy het egter gou gesond geword en het nooit weer tandpyn gehad nie! (Hans was 'n mediese dokter, nie 'n tandarts nie!)

Fanie was nog baie jonk toe hy vir Hansie van Loggerenberg tydens 'n verskeidenheids-konsert gesien het. Hy sê dié man het 'n onuitwisbare goeie indruk op hom gemaak het. Hansie het nie net mooi gespeel nie, maar hy was ook netjies aangetrek en sy optrede was afgerond en professioneel. Sy orkeslede was ook baie gedissiplineerd. Hy het daarna altyd diep in sy binneste gewens dat hy ook eendag só sou kon speel en optree.

Sy begeerte is bewaarheid en hy het later so gewild geword dat hy saam met drie verskillende orkeste op dieselfde aand by danse gespeel het! Hy het so tussen die verskillende danse rondgery en kort-kort by elkeen so 'n paar nommers gespeel!

Hy het 'n opgeruimde geaardheid gehad en het maklik gelag. Hy kon maklik grappies ten koste van homself vertel. Tydens sy heel laaste optrede oor "Konsertinaklub" van die SAUK op 9 Augustus 1980, het Fanus Rautenbach, wat die program daardie aand aangebied het, aan hom gevra waarom hy sy wals, Die Wegloper wals, so 'n eienaardige naam gegee het. Hy het ewe droog geantwoord: "So baie vrouens het van my af weggeloop dat ek toe op dié naam besluit het!" Ai, ek hoor nou nog ou Fanie se lekker lag na hierdie grappie!

Op 28 November 1980, is hierdie genie oorlede. Dit was voorwaar 'n groot verlies vir boeremusiek. Baie musiekvriende van Pretoria, die Witwatersrand en ander verafgeleë plekke het die begrafnis bygewoon en so aan hierdie wonderseun 'n laaste eer betoon.

Om al hierdie speler se komposisies en plate te noem, is bykans 'n onbegonne taak. Daar is egter 'n paar wat nooit vergeet sal word nie:

Zuurberg vastrap
Piet en Hendrik se wals
Fanie se Vastrap
Fanie se wals
Rosie settees
Jakkie se vastrap
Koekie se settees
Oom Piet se polka
Uitspan
Voorbrand
Oom Piet se polka
Voorvoet Polka
Aanklop vastrap
Vlakdrif settees
Môrelug wals
Môrelig vastrap
Jakaranda vastrap
Daspoort
Velskoen wals
Tot laat toe vastrap
Op kommando settees
Skemeruur settees
Kromdraai polka
Kromdraai
Bos kraai
Bosveld polka
Uitkyk wals
Verlate op die berge
Die Middernag settees
Laertrek wals
Vaal Frans se wals
Daspoort Tonnel

Hierdie is maar net 'n paar van die nommers wat hy op plaat vasgelê het. Dit moet in ag geneem word dat hy ses en twintig langspeelplate gemaak het. Voorwaar 'n vrugbare musikant! Hy het ook in die Afrikaanse rolprent, "Alles sal regkom", opgetree.

Fanie was natuurlik die eerste musikant wat inleidings vir sy musiek met die konsertina gespeel het. Hy het sy eie tegniek en styl gehad en kon sowel in die tradisionele as moderne styl speel. In 'n huldeblyk wat na sy dood oor die radio uitgesaai is, het Nico van Rensburg hom bestempel as "Die konsertinaspeler van die eeu".

Op die foto kan 'n kransie wat Manie en Corra Bodenstein vir die begrafnis gemaak het, gesien word. Die konsertina is uit harde papier gemaak met die blomme rondom gerangskik.

foto hier