Welgens, Martinus Wessel [Willie]

[20 September 1918 - 4 Junie 1973]

 
     
 
Willie, soos hy alombekend was, is op 20 September 1918, in Brakpan gebore. As kleuter het sy musiektalent al begin deurskemer. Op die ouderdom van ses het hy al sy eerste openbare optrede met 'n mondfluitjie op 'n skoolkonsert gehad! Kort hierna het hy die kitaar bemeester en een van ons grootste konsertinaspelers van weleer was op pad om beroemd te word.

Kort hierna het Willie met die konsertina begin en dit was gou duidelik dat hy 'n gebore konsertinaspeler was. Op 18-jarige ouderdom het hy sy eerste plaat, naamlik die beroemde treffer Suikerbossie, gemaak. Hierdie plaat was van meet af 'n groot sukses en later het Willie sy orkes na hierdie gewilde plaat vernoem, naamlik die Welgens Suikerbossie Orkes. In 'n program, "Baanbrekers van Boeremusiek", wat die SAUK op 6 Januarie 1969, uitgesaai het, het Willie gesê dat die opname van Suikerbossie vir hom die grootste opwinding in sy musiekloopbaan was. Hy vertel toe die opname Willie Welgens vir hulle teruggespeel is (daardie dae was dit nog op wasplate opgeneem), het hy 'n onbeskryflike gevoel gekry . . . Dit was vir hom mooi, lekker, aangenaam en opwindend. In sy herinneringe was dit altyd een van die hoogtepunte van sy lewe.

Formele musiekopleiding het hy nooit gehad nie. Toe hy vir Hendrik Susan begin speel het, het hy 'n paar kitaarlesse by Rupert Meyer gekry en ook geleer om musiek te lees. Dit het hom later baie gehelp in sy musiekloopbaan.

Naas die konsertina kon hy die volgende instrumente bespeel: kitaar, mondfluitjie, basviool, banjo, klavier en trekklavier. Na die maak van sy eerste plaat, het hy by Gallo (Afr.) in hulle kitaarfabriek begin werk wat aan die ateljees in Troystraat gegrens het. Hy was dus ook byderhand as begeleier vir verskillende orkeste en sangers. Hy het Dawid de Lange dikwels begelei wat op daardie stadium baie plate gemaak het. Willie het ook soms saam met Hansie van Loggerenberg gespeel, maar dit was hoofsaaklik op danse.

In 1938 het Willie by Hendrik Susan se orkes aangesluit. Hulle het 'n kontrak opgestel wat mevrou Welgens later aan Hans la Grange gegee het. Sy het nooit weer iets van hierdie kontrak gehoor nie, want Hans het gesê dat hy dit vir sy museum gaan hou. Saam met Hendrik het hulle die land deurreis en vir lang tydperke in Kaapstad gebly waar hulle koffiehuiskonserte en radio-uitsendings aangebied het. Hulle het ook baie geld vir die Reddingsdaadbond ingesamel.

Ons dank mevrou Babs Welgens vir al hierdie inligting. Sy vertel verder dat sy destyds in Kaapstad gewerk het toe die orkes daar doenig was. Sy het in 'n losieshuis in Oranjestraat gewoon en Willie het ook daar kom bly. Hulle het bevriend geraak en is 10 Julie 1943, getroud. So 'n jaar of twee daarna het Willie die swerwersbestaan vaarwel toegeroep alhoewel hy nog dikwels saam met Hendrik opgetree het as die geleentheid hom voorgedoen het of as Hendrik hom nodig gehad het. Mevrou Welgens sê dat Hendrik altyd soos 'n ware heer opgetree het. Sy praat met groot lof van hom. Hierna het Willie net vryskutwerk gedoen. Hy het lank saam met Freddie Fischer gespeel en omtrent tien jaar lank ook by die Rosemarie Dansklub.

In 1945 het hy konsertina vir Freddie gespeel toe die SAUK 'n boeremusiekwedstryd oor die radio aangebied het. Hulle orkes, naamlik nommer 13, se uitsending was op 23 April en hulle het met die louere weggestap! Die wenorkes het toe weer daarna oor die radio opgetree en daar is drie transkripsie-opnames van hulle musiek gemaak. Mevrou Welgens het nog hierdie opnames in haar besit en is beslis dat dit van haar waardevolste besittings is. Net na hierdie kompetisie het Gerrie Bezuidenhout, wat destyds by Meteor Plate gewerk het, Willie kom spreek en hom gevra om 'n langspeelplaat daar te maak. Hy het ingewillig en so gebeur dit dat hy altesaam vier langspeelplate by daardie maatskappy maak.

Willie het teenoor sy vrou erken dat dit nie lekker was om die langspeelplate by Meteor te maak nie, want elkeen het sy eie mikrofoon en oorfone gehad en kan hy nie "lekker gees vang" nie. In die ou dae het die hele orkes blykbaar om een mikrofoon gespeel. Vandag het elke speler sy eie mikrofoon tydens opnames en hulle sit vêr van mekaar sodat die mikrofoon nie die ander instrumente se klanke kan opvang nie. Elke speler het dan ook oorfone waarmee na die ander orkeslede se musiek luister word. Soms is hulle afgehok in klankdigte ateljees en kan nie eens al die ander spelers sien nie!

Willie het baie van die ou musikante geken, waaronder: Hendrik Susan, Freddie Luyt, Freddie Fischer, Jimmy Boonzaier, Eddie Wyngaardt, Tienie Coetzer, Nico Carstens, Sam Petzer, Willie Bauscher, Neels Steyn, Louis Lotter, Jannie Nel, Corrie Nortje, Fanie Bosch, Hansie van Loggerenberg en baie ander.

Mevrou Welgens het my 'n bladsy uit 'n notaboek gewys waarop Willie aangeteken het wie hom op die 78-spoedplate begelei het. Hulle was:

Willie Welgens : Konsertina
Dan Truter : Klarinet
George Abrahams : Banjo


Die kitaar- en basvioolspelers het baie gewissel, maar van die volgende spelers het hom op die een of ander van hierdie plate begelei:

Arnout van der Merwe,
Eddie Wyngaardt,
ene Smit (sy voornaam het hom ontgaan)
: Kitaar
Wilhelm Roets,
Gert Naude, 
Rup Meyer, 
Tienie Coetzer en 
Stan Murray
: Basviool


Dawid de Lange was natuurlik die sanger. Op sy laaste langspeelplaat was die orkeslede:

Willie Welgens : Konsertina
Dan Truter : Klarinet
George Abrahams : Banjo
Dries Lombaard : Kitaar
Regan Pinnoy : Basviool

Van Willie se bekendste komposisies, wat ook in sy eie handskrif opgeteken is, is:

Boerewors en Koffie
Jukskei vastrap
Vuurklip vastrap
Draai en Swaai
Besembos settees
Roosterkoek settees
Witrok
Marietjie
Verlange
Karringmelk wals
Die Groot lawaai vastrap
Die Apie settees
Vrolike nagte
Vra Lammie, vra
Willie het natuurlik ook vir Chris Blignaut begelei tydens die opname van Leentjie. Hy het die konsertina meesterlik bespeel en George Abrahams was net eenvoudig briljant met sy banjo. Willie het die gawe gehad om die Engelse dansliedjie meesterlik met die konsertina na te speel. Hy kon die moeilike Tico Tico, Margie, The umbrella man, Whispering en talle ander met gevoel en met 'n opgewekte ritme, foutloos speel.

Al die hedendaagse spelers is dit eens dat Willie werklik 'n uitstaande speler was en, gemeet aan vandag se staandaarde, beslis baie goue plate sou verdien het, want hy het baie treffers gemaak!

Hier volg 'n lys van 78-spoedplate wat hierdie begaafde musikant vir ons nagelaat het:

Suikerbossie
Roosterkoek settees
GE 264
Grietjie polka
Hendrik se wals (hier speel 'n ander orkes, nl. Ou Gert Hattingh)
GE 265
As die Maan opkom oor die berge
Pieta polka (hier speel Hansie van Loggerenberg en sy Lekker Kêrels)
GE 266
Bosveldliefde
Rooidagsettees
GE 273
Ou Willie se vastrap
Huistoe Gaan vastrap (hier speel Kruger en Marais se orkes)
GE 278
Bosveld-huisie
Die Ou Armstoel
GE 279
Vrolike Nagte
Vra Lammie vra
GE 282
Sarie Marais
Arme vroutjie (hier speel Kruger en Marais se
orkes weer)
GE 286
Vissers Nooi
Suiker Kalbas (Hier speel Dan Lourens en sy orkes)
GE 492
Op 'n Braaivleisaand
Oom Bossie van die Bosveld
GE 367
Alibama
Januarie, Februarie, Maart (Hier speel H. Susan en sy orkes)
GE 430
Leentjie (Willie speel hier saam met Chris Blignaut)
Opsitaand (Willie speel hier saam met Chris Blignaut)
GE 428
Hartseer wals
Karringmelk wals
GE 481
Vuurwerk vastrap
Zoutpansberg
GE 496
Sambreelmaker (wals)
Die Vlei vastrap (Dan Lourens en orkes)
GE 311
Sonop
Meisie van my drome
GE 314
Ekskuus
Voortrekker Dans
GE 315
Ek fluit 'n deuntjie
Hier wag vir 'n trein
GE 316
Fluister
Belet my nie om te droom
GE 317
Petronella
Hardloop Hasie
GE 323
Ons Land
Sy's 'n mooi nooi
GE 333
Eggo (wals)
Die Biervatpolka
GE 334
Dawie se polka
Skeeloogdaisie
GE 335
Tamatiekonfyt
Hou jou meisie
GE 336
Onder in die boord
Een van die dae
GE 340
Ou Daantjie se polka
Aantjie, my liewe Aantjie
GE 343
Somtyds
Die groot lawaai
GE 346
Op 'n Boerefees
Vryperd
GE 413
Dorpsmusiek (wals)
Hoogmoedige Jan (wals)
GE 281
Marie
Ek hou van piesangs
GE 289
Ti-Pi-Tin
Rusbankie
GE 293
Die Hoëveld Dans
Tien mooi nooiens
GE 304
Willie die Fluitspeler se vastrap
Ou Dan se settees (Dan Lourens se orkes)
GE 309
Waar is Bettie (Vastrap)
Treur Baba treur
GE 310
Vaal haar
Om die braaivleisvure
GE 348
Hannetjie (wals)
Oom Bart (settees)
GE 349
Kersfees (wals)
In die Drakensberge (wals)
GE 358
Jy is my liefling (wals)
Boomstraat se nooiens
GE 359
Totsiens Sarie (vastrap)
Oom Bart se vrou
GE 360
Ma (vastrap)
Houtkapperlied
GE 361
Tico Tico
Lap Poppie
GE 431
Lulu
Hoe voel jou voete nou?
GE 432
Boerewors en Koffie
Skeeloogdaisie
GE 552
Vuurvonk
Polka draai
GE 523

Behalwe waar Chris Blignaut gesing het, het Dawid de Lange al die sangdele wat op hierdie plate voorkom, behartig.

Willie is op 4 Junie 1973, oorlede. Hy is veras en sy as is oor Brakpan se tuine gestrooi. Hierdie groot seun van ons volk het beslis 'n groot bydrae tot ons volksmusiek gelewer.

Full Name: 
Welgens, Martinus Wessel [Willie]
Birth Date: 
1918-09-20
Decease Date: 
1973-06-04

Content type

Artists