van Loggerenberg, Johannes Hendrikus [Hansie]

28 Desember 1908 - 15 Julie 1986]

 
     
 

Hansie, soos hy alombekend is, is op 28 Desember 1908, in Potchefstroom gebore. As jongman het hy by 'n begrafnisondernemer in Fordsburg, Johannesburg, begin werk. Hy moes ook nagdiens verrig en het gou besef dat hy vir hom 'n stokperdjie sou moes aanskaf, aangesien dit maar eensaam en alleen kon word in so 'n plek! Hy het eendag 'n Swartman 'n konsertina sien speel en het nader gestaan. Die Swarte het net een wysie op 'n ou boerekonsertina gespeel, maar Hansie se belangstelling was geprikkel. Nadat die Swarte hom so 'n bietjie gewys het, het hy sy eie konsertina gaan koop en nie lank daarna nie, kon hy Sarie Marais vlot speel.

Hansie was ses en veertig jaar lank verbonde aan die Transvaalse Administrasie en het sy hele dienstermyn by hospitale gewerk. Hy het as bode by die destydse Algemene Hospitaal, Johannesburg, begin en het in Pretoria afgetree as Administratiewe Beampte.

In 1935 is hy met Anna Jacoba Burger verloof en hulle is die daaropvolgende jaar getroud. Hy het haar altyd sy ou "Flame" genoem.

In 1935 het Hansie aan sy eerste direkte (lewendige) uitsending oor die radio deelgeneem. Die program wat destyds in die ateljees in Breestraat, Johannesburg, opgeneem en uitgesaai is, het ongeveer 'n uur geduur en die bekende Pieter de Waal was die aanbieder.

In 1937 het hy sy eerste plate gemaak en sy orkes was toe bekend as die Lekker Kêrels. Een van Hansie se eerste plate se naam was Aan die Flames-vastrap. Ons het altyd gewonder vanwaar die eienaardige naam, en het lekker gelag toe hy vertel dat hy dit eintlik aan sy ou "Flames" opgedra het!

Hierdie orkes, Die Lekker Kêrels, het uit die volgende spelers bestaan:

Hansie van Loggerenberg : Konsertina
Van Rensburg : Mandolien
Attie Mare : Banjo
Pretorius : Kitaar
Kleynhans : Kitaar

Hierdie orkes was baie gewild en Hansie het baie boeremusiekkompetisies
gewen. In 1942 en 1949 het hy ook twee kompetisies gewen wat deur die SAUK aangebied is. Dit spreek boekdele vir sy orkes, want in daardie jare was boeremusiek op die kruin van die golf en die kompetisie baie straf!

Later is die orkes na die Excelsior Radio- en Dansorkes herdoop. Hansie was natuurlik ook goed bevriend met al die goeie spelers van daardie jare en het vir Cissie en Willie Cooper - die bekende komponiste - baie goed geken. Die volgende bekende sangers het dikwels saarn met hom opgetree: Chris Blignaut, Dawid de Lange, Bettie Brits, Freddie Fischer, Jurie Ferreira en Danie Pretorius. 
Callie Burger, sy swaer, het ook soms saam met hom opgetree. Hy was 'n bekende basvioolspeler, maar was ook vaardig met die klavier, banjo en trekklavier. Terloops, hy het ook die volgende plaat gemaak: Hoor die Uile in die Laan en Katushka Katryn. Dis by Trek opgeneem en die reeksnommer is AC 762.

Baie van die musikante wat saam met Hansie opgetree het, het later hulle eie orkeste gestig en beroemd geword. Hansie se vrou het agt jaar lank die tromme in die orkes gespeel. Sy vertel dat sy 'n paar maal bedank het, maar dat Hansie dit nooit wou aanvaar nie. Op 'n dag het sy 'n blink gedagte gekry en haar bedanking skriftelik ingedien! Hy moes toe maar die bedanking gelate aanvaar!

Sy vertel dat dit baie bedrywige jare daardie was en dat hulle party Saterdae tot vier maal op bruilofte moes speel! Die troues is natuurlik so gereel dat die orkes kon optree, bv 10h00, 14h00, 18h00 en 20h00. Hulle moes ook later die orkes in twee groepe verdeel. Hansie was die leier van die senior orkes en sy vrou moes met die junior groep optree. Hulle het natuurlik van die beste musikante tot hulle beskikking gehad, en manne soos Pieter en Ollie van Wyk en Jimmy Mitton het hulle bygestaan. Die bekende banjospeler, George Abrahams, het ook lank saam met hulle opgetree. Hulle vertel graag die volgende staaltjie: Hulle het gewoonlik saans vir George by sy huis gaan oplaai wanneer hulle
iewers moes gaan speel. George se vrou se naam was Mary. George was 'n baie beleefde en goedgemanierde mens en wanneer hulle wegry, het hy altyd vir Mary gewuif en gesê: "Nag Mary". Wanneer George nie by was nie het hulle gewoonlik ondermekaar gespot en
gesê George sê vir sy vrou "nagmerrie"!

Hansie en sy orkes het baie by beroepsboksgevegte opgetree. Hulle het gewoonlik die toeskouers vir ongeveer twee uur voor die geveg met lekker ligte musiek, en veral boeremusiek, vermaak. Ai, waar's die dae?

In die goeie ou dae moes Hansie een keer op Potchefstroom by 'n verskeidenheidskonsert gaan speel. Pieter de Waal was weer die organiseerder en aanbieder en die program sou lewendig uitgesaai word. Hansie en sy orkes het van Johannesburg gekom en moes
die hele pad in die rëen ry. Daardie jare was dit nog grondpaaie en vir ente-ente moes een van die orkeslede voor die motor loop om te sien of dit veilig was om te ry. As gevolg van hierdie toestande het hulle bykans 'n uur laat by die konsert opgedaag. Hulle kon
inderhaas net een of twee nommers speel voordat die tyd verstreke was. Sy vrou het angstig by die huis voor die radio gesit en wag en kon nie verstaan waarom die orkes nie speel nie. Haar verligting was egter baie groot toe sy hulle darem aan die einde van die
program gehoor het!

Hansie het die volgende 78-spoedplate gemaak:

Aan die Flames
Voorloper set.
GE 236
Lekkerdraai set.
Die Splinternuwe broek
GE 240
Kom Terug my Liefling
Verlang wals (Saam met Danie Pretorius)
GE 243
Ruklos Vastrap
(Anderkant is dit Jac v.d. Walt en Dan Bothma met die Blou Rok)
GE 259
Pieta Polka
As die Maan opkom oor die Berge
(Hierdie kant is dit W. Welgens met Jac v.d. Walt)

GE 266
Loekie, Loekie, Loekie
Koos van Buffeldoorns
GE 283
Minnie se verjaardag
Ver in Christiana
GE 284
Soet Gedagtes (Veleta)
Die Lekker Kerels
GE277
Jan van Riebeeck
Bokkie
GE 509
By 'n Kampvuur
Herinnerings

GE 525
My Skuitjie
Ploem ploem tralala
GE 537
Klipdas Polka
Appeltjie
GE 603
Voortrekker wals
(Anderkant is Rooikrantz deur Imker Hoogenhout)
GE 642
Ruklos Set.
Draai am
JV 107
As die musiek in die voorkamer raas
AI Iê die berge nog so blou (Saam met C. Blignaut)
JV 109
Huistoe
Pale toe
AC 715
Op Reis na die maan
Ali Bama
AC 716

Hansie het ook 'n aantal Christelike plate gemaak en het daarin as koorleier opgetree.

Hansie se ook dat hulle op 'n keer op Pietersburg gespeel het waar 'n bewonderaar buitengewoon lank met hom gesels het. Die man was naderhand baie vervelend en toe hy (die man) later anderpad kyk het Hansie sy kans waargeneem om weg te loop. Toe die man weer na sy held opkyk, kyk hy in die gesig van 'n ander speler, Chris Terblanch. Hy kon die situasie nie begryp nie en se erg verbaas: "My Gosh, how have you changed!"

Hansie kon natuurlik musiek lees. Hy was bevoorreg om lesse by Michael de Villiers te neem. Die meeste van die ou Boeremusikante en selfs nog baie hedendaagse spelers, was hierdie voorreg nie beskore nie. Hansie het ook konsertinalesse aangebied en het baie leerlinge gehad. Hy het die klawerbord van die konsertina geteken en die musiek daarvan geskryf. 

Die Randse Vriendekring is in daardie jare gestig en radiouitsendings is maandeliks vanaf hierdie byeenkomste lewendig aangebied. Bekende kunstenaars soos Al Debbo, Jim Muller, Frederik Burgers, Chris Blignaut en vele ander het daaraan deelgeneem.

Op 'n stadium het Hansie die magtiging van die SAUK gehad om voornemende kunstenaars se aanleg te toets, oudisies te reel en 'n aanbeveling te maak. As hy byvoorbeeld iemand goedgekeur het, kon die persoon by die konsert optree en aan die lewendige uitsending deelneem. Op 'n keer het hy aan 'n manspersoon toestemming gegee om 'n sangnommer by die konsert te lewer. Dit was ook 'n direkte uitsending en die man het ewe lustig begin sing: "Ek sien 'n skilpad in die pad, ek tel hom op en sit hom neer"!!! Daar was natuurlik ook baie lelike woorde vir hierdie liedjie en Hansie was verlig toe die man net die woorde "ek tel hom op" gesing het "en ek sit hom neer" want vir die laaste reël was daar destyds baie kru woorde! Hy se hy sidder nou nog as hy aan die gevolge dink sou die persoon die lelike woord wel oor die lug gesing het!

Een aand moes hy een van sy lede (die naam sal maar liewer verswyg word) voor die mikrofoon wegstamp, want hierdie ou het eweskielik met die vreeslikste akkoorde losgetrek waarmee die ander lede nie kon saamspeel nie. Hierdie akkoorde was nooit vooraf geoefen nie en as die ou daarmee sou voortgaan sou die uitsending pateties misluk het! Dis onnodig om te se dat die ou spelers letterlik hare op hulle tande moes gehad het tydens die lewendige uitsendings. As 'n snaar sou breek, moes die betrokke musikant eenvoudig maar net voortgaan asof niks gebeur het nie!

Hy het ook op 'n stadium vir ses maande saam met Chris Blignaut deur die land getoer en konserte aangebied. Hy se ou Chris was altyd baie nuuskierig oor hoeveel mense die konserte sou bywoon en het altyd deur 'n gaatjie in die gordyn geloer (as daar nie een was nie het hy een gemaak!) om te sien hoeveel mense inkom. Hy het dan aan Hansie gese: "Hier kom drie-en-ses" of hier kom nou weer "drie vyfsjielingse ingestap", ens. 

Hansie en sy gesin het dikwels op Stilbaai vakansie gaan hou en hier het hy gehoor hoe Bokkie deur die Kleurlinge gesing is. Hy het dit opgeteken en verwerk. Dit was later 'n groot treffer en word vandag nog dikwels gehoor. Dieselfde het met Alibama gebeur. Dit was net so gewild en het later Hansie se kenwysie geword. 

Hansie en Jan Pohl was groot vriende, die twee gesinne het dikwels saam gaan vakansie hou in die Suide. Hansie het baie van Jan se komposisies uitgesaai en op plaat pgeneem. Hansie en sy orkes was vir meer as drie dekades op die voorgrond en het voorwaar 'n vrugbare tydperk in die ligte musiekwereld gehad. In 1957 het hy na Pretoria verhuis en nog soms daar opgetree. Hy het egter in 1967 verlamming aan die een kant van sy liggaam opgedoen. Sy regterhand is so aangetas dat hy sedertdien nooit meer sy geliefde konsertina kon bespeel nie.

Hansie se goeie vrou het deur die jare plakboeke van sy musiekloopbaan gehou en dit was vir oom Piet Bester 'n aangename ondervinding om deur hierdie knipsels en foto's te blaai. Ons almal se gedagtes het ver teruggegaan en ons het gewonder wat in Hansie se gedagtes omgaan want ons kon aan sy vriendelike blou oë sien dat hy ook gepeins het . . .

Die Van Loggerenbergkinders is almal musikaal en Hennie is deesdae seker net so bekend soos sy vader. Hy is aan die SAUK verbonde en ons hoor hom dikwels oor die radio en televisie.

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat Hansie ons op 15 Julie 1986, in Pretoria ontval het. Ons het 'n groot man op ons terrein verloor, maar het ryk geërf aan waardevolle kultuurgoedere. Hansie, ons bring hulde aan jou en salueer jou nagedagtenis!

Full Name: 
van Loggerenberg, Johannes Hendrikus [Hansie]
Birth Date: 
1908-12-28
Decease Date: 
1986-11-28

Content type

Artists