Dirkie Uys

Dirk Johannes Uys is gebore op 6 Januarie 1924 in die Hennenman distrik. Sy moeder was baie musikaal en het die klavier en traporrel bespeel. Dirk het op 5-jarige ouderdom die mondfluitjie baasgeraak. Op 6 jaar het hy 'n boerekonsertina persent gekry en binne drie dae is die eerste wysie gespeel! Die liedjie was die bekende Engelse Adelaide, wat deur Chris Blignaut as My Lenie Louw vertaal en gesing is. Van toe af het Dirk se konsertina dae begin. Op ongeveer 13-jarige ouderdom het Dirk 'n viool as geskenk gekry, asook 'n trekklavier van sy pa. Hy het deeglike onderrig met die viool ontvang en vir baie jare was die viool en konsertina van sy geliefkooste instrumente. Hy het ook onderrig in klavier ontvang alhoewel dié nooit 'n gunsteling instrument vir Dirk geword het nie. Hy het wel die klavier gebruik om (met uitsluiting van sy konsertina nommer) heelwat ligte Afrikaanse wysies te komponeer. 

Op 17-jarige ouderdom het Dirk 'n drie-ry Wheatstone konsertina as geskenk van 'n welaf oom gekry, wie ook 'n goeie konsertina speler was. Dirk het vir bykans twintig jaar in sy eie sowel as ander dansorkeste gespeel.

Vanaf 1950 het hy heelwat radio-uitsendings gedoen met o.m. Pieter de Waal (van Koffiehuis-faam) en later ook met Flippie van Vuuren in Johannesburg. Dirk en sy orkes het dikwels uitgesaai vanaf die Odeion by die UOVS met regiseurs Danie Erasmus, Theo Erasmus, Willem Botha en andere. 

Dirk word verplig om die musiekwêreld totsiens te roep in Oktober 1982 as 'n ernstige berierte aanval sy regterhand verlam. Hy kon vir ses jaar lank geen instrumente bespeel nie. Na dié tydperk het hy huiwerig, nederig en met die genade van Bo, weer die konsertina begin speel en op die tradisionele styl gekonsentreer. 

Dirk het vroeër vier langspeelplate gemaak, almal in die moderne styl, nl. Stereo KonsertinaLekker SwaaiRaakvat en Hokaai. Aan die begin van 1994 het sy huidige orkes tot stand gekom om, behalwe vir die liefde van die saak, ook om te help om tradisionele Boeremusiek te bevorder.

Dirk is geseën met die gawe om nuwe wysies te kan komponeer en sy laaste laserskyf, Net vir jou, is almal skeppings van sy eie. Dit is aan huis van Dawid Fourie te Baainsvlei, Bloemfontein opgeneem op 5 Januarie 1996. Hy was al 72 jaar oud toe die opnames gemaak is. Vandag besit ons egter heelwat musiek wat hy en sy orkes daarna opgeneem het. Hy en sy orkes het vir jare by die TBK funksies in Bloemfontein en elders gespeel.

Met die opening van Radio Rosestad (vroëer Radio Vryheid) in 1993, het Jasper Vlok en Andre Groenewald die program "Die goeie ou dae" begin. Oom Dirkie het vir ten minste 5 jaar die snitte geluister en ingekleur met sy kommentaar.

Dirk beskou dit as 'n heerlike voorreg om Boeremusiek te maak, en sê dat hy dit graag doen om sy volksgenote se harte te verbly.

Die lede van sy orkes bestaan uit:

Dirk Uys Konsertina
Dawid Fourie Klavier en Traporrel
Braam van Wyk Kitaar
Leslie Kunneke Banjo
Scottie Scot Kitaar
Jan Pretorius Baskitaar
Christo Fourie KItaar


Dirk Uys is oorlede te Bloemfontein op 15 Julie 2005 en word oorleef deur sy vrou Katie, kinders en kleinkinders.

Full Name: 
Uys, Dirk Johannes [Dirkie]
Birth Date: 
1924-01-06
Decease Date: 
2005-07-15

Content type

Artists