Susan, Cornelis Henricus [Hendrik]

Hendrik, soos die hele Suid-Afrika hom geken het, is op 4 Mei 1903, in Pretoria gebore. Sy eerste skool was die Eendract Laerskool en daarna het hy na die Jonge Seuns Hoër gegaan. Hy was 'n uitstaande atleet en sy verspringrekord by hierdie skool was vir jare onoortreflik. Dis ook in hierdie jare dat hy sy toekomstige vrou, Mabel Middleton, ontmoet het. Hulle is in 1927 getroud en twee seuns, Jan Clarence en Leon Pierre is uit die huwelik gebore.

Aanvanklik wou Hendrik 'n mediese dokter word en hy en 'n vriend het besluit om, ná hulle skoolopleiding, na Holland te gaan om hulle daar as geneeshere te bekwaam. Die vriend het egter later kop uitgetrek en Hendrik het toe ook maar hierdie ideaal van hom laat vaar.

Hy het musieklesse geneem, maar volgens hom, het hy nie baie van Bach gehou nie. Later het 'n meneer Te Groen, die bestuurder van 'n groot tabakmaatskappy, hom verder onderrig. Hy kon gevolglik musiek lees en skryf en dit het baie tot sy meteoriese opgang in die musiekwêreld bygedra.

Hy is kort hierna na Lourenco Marques vir 'n vakansie. Hy en twee dames het een aand in 'n hotel gespeel en hulle was dadelik so gewild dat Hendrik se vakansie in 'n paar jaar se verblyf daar verander het.

Hendrik en Dan Bothma, die bekende pianis, was ook daarna vir ongeveer drie-en-'n-half jaar in Bulawayo. Hulle het saamgespeel en baie ondervinding opgedoen. Hendrik het 'n huurmotorbesigheid begin en gou vyf motors besit. Ongelukkig was daar destyds ook al "terroriste" en hy het vier van sy motors in 'n week verloor as gevolg van ongelukke en
ander kwaadwillige dade.

In 1929 het hy teruggegaan na die familieplaas, Haarlem, daar in Piet Retief se wêreld. Sy enigste motor se bande was in so 'n swak toestand dat dit nie minder nie as vier en twintig papwiele gedurende die rit opgedoen het!

Hendrik het 'n paar jaar lank geboer. In 1937 het Gideon Roos, destyds van die SAUK, van sy talente bewus geword en hom gevra om 'n boere-orkes te stig, wat hy dan ook gedoen het. Die bekende Pieter de Waal het ook sy deel bygedra en het baie jare daarna gewilde verskeidenheidskonserte saam met hierdie orkes aangebied.

Van sy eerste spelers was Sam Petzer en Les Kelly. Vir sy eerste radio-uitsending het hy slegs vyf ghienies (R10,50) ontvang! Daar was sewe lede in die orkes, en hy het vir vyf van hulle elk een ghienie gegee en die sesde lid uit sy eie sak betaal. Hyself moes natuurlik noodgedwonge verniet speel! (U sal nog later merk dat hy baie vrygewig was.)

In 1938 het die Simboliese Ossewatrek plaasgevind en Hendrik en sy orkes was op volle dreef en het pragtige opgang gemaak. Hy het Jan Swart se Ossewa en Danie Bosman se Boereseun gevoelvol vertolk. Wie sal Chris Lessing, sy eerste sanger, se vertolking van
die Ossewa ooit ligtelik kan vergeet? Hierdie nommers was tereg die eerste Afrikaanse treffers van ligte Afrikaanse musiek. Tedoops, Danie Bosman het tien sjieling (R1,00) ontvang vir publikasieregte van sy Boereseun. By die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument het Hendrik en sy orkes ook opgetree. Dit was 'n reuse-sukses en die "Afrikanerharte het weer warm geklop" op maat van Jan Swart se Ossewa.

Hierna het Hendrik sy eerste konserttoer deur die land onderneem. Dit was baie suksesvol en die mense het dit baie geniet, maar ongelukkig het dit op'n finansieIe verlies uitgeloop.

Hy het hierna die eerste Afrikaanse klub, Die Werda Klub, in Johannesburg gestig. Dit was weer eens 'n sukses. Afrikaners in Johannesburg het 'n groot behoefte aan so 'n klub gehad en kon nou weer op die beste dans en luistermusiek getrakteer word vir net ses sjielings (60 sent) per Jaar.

Hendrik was 'n Afrikaner in murg en been en het baie vir liefdadigheid gedoen. In daardie jare was daar werklik baie arm mense in die land, veral ook in Johannesburg. Hy het op 'n keer 'n hele konserttoer se profyt aan die Reddingsdaadbond gegee. Later was daar mense wat beswaard geraak het deur hierdie skenking omdat die geld dan kwansuis deur middel van danse ingesamel is! (Die geveinstes sal maar altyd, net soos die armes, tussen ons wees.) Hy het later 'n groot deel van sy profyt geskenk vir die bou van 'n Afrikaanse teater in Johannesburg. Hy was werklik opmerklik vrygewig.

Onder die Swartes het hy die bynaam van "mali javusi" gekry. Dit beteken letterlik dat sy geld uit sy sak lek! Hy het waarlik nie baie waarde aan geld geheg nie. As hy genoeg gehad het, het hy die minderbevoorregtes nie vergeet nie. Hy het baie geld sonder bewys of kontrak uitgeleen wat hy nooit weer teruggekry het nie. Op 9 Augustus 1985, het oom Piet Bester 'n heerlike oggend saam met sy oudse seun, Jan Clarence, deurgebring. Dit was 'n elewenis om deur al die koerantknipsels, fotos en ander relevante stukke in verband met Hendrik se musiekloopbaan, te blaai. Dit was aangenaam, interessant en insiggewend om knipsels van Die Transvaler en Vaderlandvan die laat dertigerjare te bekyk en te sien hoeveel konserte en funksies hy vir liefdadigheid aangebied het. Hy het selfs ook baie lof van die Engelstalige koerante ontvang. Ek het onmiddellik tot die besef gekom dat hierdie man werklik 'n ruim hart gehad het en daadwerklik 'n leeue-aandeel in fondsinsameling vir liefdadigheid in Johannesburg gehad het.

(Terloops, iemand kan gerus sy biografie skryf. Waarom daar nog nie 'n rolprent oor sy lewe gemaak is nie bly net 'n raaisel, want dit sal werklik 'n treffer wees. Hy was 'n man uit die volk vir die volk. As die Amerikaners gaande kan raak oor hulle Glen Miller, hoef ons darem nie ons hoede oor ons oë te trek vir ons eie Hendrik nie!)

Hierdie orkes was werklik die eerste groot dansorkes in die stad wat van boeremusiek tot moderne ligte Afrikaanse musiek gespeel het. Hy het meestal van 'n klavier, trekklavier, viool, elektriese kitaar, basviool en tromme gebruik gemaak. (Voordat hierdie orkes
tot stand gekom het, was Hendrik seker een van die beste saksofoonspelers in die land, maar hy het feitlik nooit daarvan gebruik gemaak in die orkes nie.) Hy het natuurlik net die beste beskikbare spelers gebruik en het altyd gepoog om 'n puik sanger te hê. Hy het beslis geweet wat sy mense wou gehad het. Al die spelers, net soos hyself, moes altyd in aanddrag wees tydens optredes en die "Chief", soos hy onder hulle bekend was, het toegesien dat die beeld en klank van die orkes onberispelik was. Die orkes het so gewild geword dat honderde mense soms by konserte of ander optredes, as gevolg van stampvol sale, moes omdraai. Soms is die deure en vensters oopgemaak, sodat die wat buite was, ook kon luister. In Suidwes-Afrika het dit dikwels gebeur dat die mense na die konsert nie wou huis toe gaan nie. Hulle het gewoonlik gesê dat hulle honderde kilometers ver gery het om die byeenkoms by te woon en dat die konsert met 'n dans afgesluit moes word! Hulle het ook dan dadelik 'n hoed omgestuur vir 'n kollekte vir die orkes. Alhoewel hulle soms baie moeg was, moes hulle maar noodgedwonge met die reëlings inval en speel. Menige keer het hierdie partytjies tot sonop geduur. Dit was harde dae, want die volgende aand moes hulle gewoonlik op 'n ander plek optree.

Hy het ook op sy dag vir die grootste dans in die land gespeel. Volgens koerantberigte was daar meer as vyf duisend pare op die dans wat by die Milnerpark skouterrein, tydens 'n Ryksuitstalling van 1936, gehou is!

In Oos- Londen, by 'n koffiehuiskonsert, moes sewe honderd mense een aand omdraai omdat hulle nie plek in die saal kon kry nie! Die belangstelling was so groot dat selfs die verkeer in die straat voor die betrokke gebou, tot stilstand gekom het.

Gedurende die oorlogsjare was dit moeilik om per motor te reis, want daar was 'n beperking op brandstof en motorbande. Hendrik het egter die hele land deurreis en vertel dat goedgesinde mense hulle altyd tegemoet gekom het met brandstof en bande. Dit was
natuurlik daardie jare 'n ernstige oortreding om brandstof van een voertuig na 'n ander een oor te tap, maar dis tog gedoen! Hy sê dat selfs predikante en polisie hom op hierdie manier gehelp het! (Hierdie "oortreding" het gelukkig al lankal verjaar.) Een Sondagoggend was hulle amper op heterdaad betrap toe hulle petrol wou oortap! Die orkes het by 'n ryk boer in die Vrystaat oornag en die anderdagmore - terwyl hulle besig was met die pleeg van die "oortreding" - het 'n polisieman met sy motorfiets en syspan daar opgedaag! Hy het blykbaar ondersoek ingestel omdat hierdie orkes darem te veel ry met die toegestane kwota brandstof. Die gasvrou het dadelik onraad vermoed en kopgehou. Sy het die polisieman die huis ingenooi en hom dadelik 'n paar lekker "gemmerbiere" ingejaag. Hy het so lekker gekuier dat hy die doel van sy besoek skoon vergeet het!

Hendrik het al op 23-jarige leeftyd begin grys word langs die slape. Nie baie jare later nie was hy heeltemal grys en dit het baie bygedra tot sy imponerende en vriendelike persoonlikheid. Hy het ook 'n groot aandeel daarin gehad dat baie komponiste soos Danie
Bosman, Tommy Roering, Jan Pohl, Anton de Waal en vele ander, bekend en beroemd geword het. Sy lewensfilosofie was: "Doen aan ander mense soos jy graag wil hê hulle moet aan jou doen". Die Afrikaanse liedjies het begin skaars raak en Hendrik het sommer self begin komponeer. Dit word vertel dat hy Ons lag, sing en dans 'n paar minute voor 'n optrede gekomponeer het! Baie mense was onder die indruk dat hy slegsHuisie in die berge gekomponeer het, maar ek het die voorreg gehad om die volgende oorspronklike musiek van hom, wat ook in sy handskrif is, in my eie hande vas te hou:Kom laat ons dans, Hier moet ons skei, en ons weet ook dat hy die volgende nommers gekomponeer het: Huisie in die berge, Vrolikheid op note, In die vroeë oggend enRuspan se settees.

Dit is baie interessant om te weet dat die Huisie in die berge wel bestaan. Op die plaas Haarlem was 'n taamlike gerieflike huis wat Engelse gedurende die oorlog afgebrand het. Die arme Boere moes daarna hulle stal in 'n woning omskep en dis nou eintlik die plek
(Huisie in die berge) waar Hendrik sy vreugdevollekinderjare, tussen voëlgesang, deurgebring het. Dis hierdie woning - soos op die foto - wat deur hom in sy moedertaal besing word. (Veel later het hulle darem weer 'n gerieflike woning opgerig.)

Hy was 'n ware patriot en lief vir sy mense en land. Hy en ons geliefde Staatspresident van weleer, Sy Edele C.R. Swart, was goeie vriende en het altyd 'n geleentheid geskep om mekaar te siene te kry. Ten spyte van sy sukses, was Hendrik steeds lief vir die grond
en het in 1941 weer begin boer. Hy was egter steeds in die nuus, en opskrifte soos die volgende was volop in die koerante: "Koning van boeremusiek se strykstok bou 'n plaas". Hendrik het egter nie uitgetree nie, maar van sy plaas af, wat hy as hoofkwartier gebruik
het, rondgery om sy musiekverpligtinge na te kom. As aan hom gevra is waarvoor hy die liefste was, het hy gewoonlik geantwoord: "My vrou, my musiek en my aspersies." (Op 'n
stadium het hy agt morge aspersies gehad.)

Hoe ry die Boere was natuurlik sy kenwyse. Vandag nog, as ons ouer geslag hierdie wysie hoor, dink ons onwillekeurig aan hierdie begaafde musikant wat soveel genot en plesier aan ons Afrikaners verskaf het, juis in 'n tyd, toe ons dit so bitter nodig gehad het.

Hendrik het een aand groot skade in die Vrystaat gehad. Tydens die pouse van 'n konsert het iemand sy viool op die verhoog stukkend getrap. (Ek wed dit was een van sy spelers maar hierdie skuldige sou seker nooit sy "mistrap" erken het nie!) Daar moes skielik 'n plan beraam word om 'n ander viool in die hande te kry. Daar is van die verhoog afgekondig van die skade en om 'n ander viool gevra om te leen om voort te gaan met die konsert. 'n Boer het sy viool gaan haal en Hendrik het dit gebruik. Hulle het later die aand by die boer gaan tee drink en hy het toe die viool aan Hendrik verkoop vir £25 (R50,00) wat 'n baie hoë prys vir 'n tweedehandse viool in daardie dae was. Hierdie viool het egter al die jare daarna in Hendrik se besit gebly en hy het dit as 'n ware kleinood bewaar. Vandag is dit nog in Leon, sy jongste seun, se besit.

Alhoewel Hendrik hom nooit aktief met die politiek bemoei het nie, was hy tog, soos reeds gese, 'n stoere Afrikaner. Hy is selfs op 'n stadium genader om hom verkiesbaar te stel as LV, maar was nie daarvoor te vinde nie. Hy was destyds so populêr dat hy baie maklik nog in die parlement kon beland het! Hy was ook genader om by die Leër as musikant aan te sluit. 'n Kolonelsrang is hom aangebied en hy sou moes sorg vir die vermaak van die troepe. Hy het egter ook hierdie aanbod van die hand gewys.

Gedurende hierdie oorlogsjare moes alle byeenkomste gewoonlik met God save the King afgesluit word. Hy het dit gedoen, maar onmiddellik daarna Kent gij dat volkgespeel. Die speel van laasgenoemde het hom eendag in die moeilikheid gehad! Hy is deur 'n speurder ondervra en het benoude oomblikke beleef. Die saak is gelukkig nie verder gevoer nie.

Tydens die koninklike besoek van 1947 het hy en sy orkes ook voor hulle opgetree op Standerton. Die Koning het selfs 'n paar woorde met hom gepraat en hom genooi om Engeland met sy orkes te besoek, maar hy het nooit gegaan nie. 

W.H. Coetzer, die bekende skilder, het sy klub baie besoek en het toestemming gehad om van sy skilderye en etse daar op te hang vir reklamedoeleindes. Hy het later van hierdie waardevolle stukke aan Hendrik geskenk wat vandag nog in Jan se besit is. Die bekende oom Ben Schoeman - hy was vir jare 'n minister - het ook dikwels in sy jong dae hierdie eksklusiewe klub besoek. Jimmy Boonzaier - hy was ook 'n bekende skilder - was ook lid van hierdie beroemde orkes. Sy werke is vandag baie gesog en peperduur. Hy het selfs ook die bekende Outa in die langpad geskilder wat vandag in Nico Carstens se besit is. Hierdie plek was dus 'n gewilde bymekaarkomplek vir Johannesburg se Afrikaners. Terwyl ons van Jimmy Boonzaier praat, mag ons nie nalaat nie om te meld dat hy hom nie snaaks gehou het nie maar dat hy werklik skreeu-snaaks was! Hy was 'n bekende verhoogpersoonlikheid en propvol talent. Wie van ons ouer grade sal ooit syKersvet en confetti,Tamatiesous en Kerriekos, Sikkedoema, Ma, kom kyk vir Lena en vele ander van sy treffers kan vergeet? Bennie Raubenheimer het gepoog om hom in 'n TV-program te laat optree, maar hy is ongelukkig oorlede voordat dit gefinaliseer kon word. So 'n program sou selfs deur die "beterweters" geniet gewees het! Jimmy is natuurlik die komponis van die pragtige Karoowindjie. 'n Hollandse sanger, Marcel Laves, het ook op 'n stadium saam met die orkes opgetree. Hy het gewoonlik snaakse Hollandse klere aangetrek en het tydens konserte met sy klompe op die verhoog gedans. John Vonos, 'n ander sanger, was nie juis met die Hollander se manewales beïndruk nie. Toe die ander orkeslede grappenderwys aan hom vra waarom hy nie ook so ronddans as hy sing nie, het hy in sy kenmerkende swaar aksent geantwoord: "When I singh, I singh, I not play!" Hulle het baie met hom die draak gesteek en eendag toe hy dit nie meer van woede kon hou nie, snou hy hulle toe: "I now feel to kill." Daarna is hy met rus gelaat!

Na Hendrik se eerste hartaanval, wat baie ernstig was, moes sy seun Jan, die orkes vir ses maande oorneem. Sale was vol bespreek en die toerprogram moes gehandhaaf word. Jan vertel dat hy niks van musiek weet nie en dat dit vir hom 'n onvergeetlike ervaring was om met hierdie groepie uitgesoekte musikante te werk en saam te lewe. Hy moes, soos die gebruik was, aan die begin van die program die orkeslede aan die gehoor voorstel. Die orkes het gewoonlik begin speel en daarna het die gordyne oopgegaan. Jan het dan na die mikrofoon gestap - terwyl die orkes sagter speel - en dan die manne een vir een voorgestel. Hy se dat alles die eerste drie aande vlot verloop het maar dat hy die vierde aand teëspoed opgedoen het. Toe hy die spelers moes voorstel, het sy geheue hom totaal in die steek gelaat! Hy sê hy weet nou nog nie of dit die bekende en "verdomde verhoogvrees" is wat hom daardie aand beetgekry het nie, maar sy verstand wou net nie in rat kom nie. Na 'n paar hulpelose gebare het Taffy Kikillus sy penarie opgemerk en tot sy redding gekom! Hy het dadelik agter Jan gaan stelling inneem en aan die toeskouers gewys dat Jan se kop draai en terselfdertyd die name van die orkeslede aan hom gefluister. Die mense het hierdie "bekendstelling" baie snaaks gevind en die hele saal het gedreun van die gelag. Hierdie "manier" van voorstelling was so suksesvol dat dit vir die res van die toer gebruik was. 

Jan vertel ook dat Jac van der Walt, een van hulle eerste banjospelers, 'n baie snaakse manier van praat gehad het. Alhoewel hy reeds gevorderd in jare was, het hy nooit die see gesien nie. Op 'n besoek eenkeer aan die Kaap, kry Jac toe geleentheid om uiteindelik
die see te sien. Vir die eerste paar sekondes was hy sprakeloos en merk toe op: "Kan dit waar is?" 

Daar het baie musikante en sangers saam met Hendrik opgetree. In Mimi Coertse se beginjare was hy ook haar begeleier! Vroeg in die dertigerjare het Hendrik sy eerste plate gemaak. Hy en Dan Bothma, die pianis, het In die helder maanlig en Minnie, my Liefling
op Columbia AE 554 vasgelê. Dawid de Lange het ook 'n paar nommers saam met hierdie orkes gesing wat op plaat opgeneem is: Gertjie is die bruid, GE 366 en Op 'n braaivleisaand, GE 367.

Die volgende musikante het saam met hierdie beroemde orkes opgetree:

Sam Petzer
Les Kelly
Chris Lessing
Piet Meyers
Ems van Rooyen
Tienie Coetzer
Theo Kapp
Taffy Kikillus
Bennie Raubenheimer
Amout van der Merwe
Freddie Luyt
Jimmy Boonzaier
Sergio da Mattia
Eddie Wyngaardt
Flippie van Vuuren
Chris du Toit
Jurie Ferreira
Paul Robinson
Lucille Ackermann
John Vonos
Marcel Laves
Louis Lotter
Fanie Bosch
Manie Bodenstein
Neels Steyn
Duffy Ravenscroft
Jimmy Rayson
Al Debbo
Dulcie van der Merwe
Nic Potgieter
Jac van der Walt
Willie Welgens
Rassie Erasmus
Nico Carstens


en nog andere. Die meeste van hulle leef vandag nog en almal van hulle het groot sukses in die ligte musiekwereld behaal. Hendrik het altyd gesê dat Taffy sy grootste vonds ooit was.

Hy en sy orkes het ook in vyf Afrikaanse rolprente opgetree: "Kom saam vanaand", "Hier's ons weer", "Altyd in my drome", "Alles sal regkom" en "'n Plan is 'n boerdery".

Alhoewel Hendrik Susan ook ligte Afrikaanse musiek gespeel het, het hy tog nooit neergesien op boeremusiek nie. Hyhet baie FAK liedjies en ander boeremusiek op plaat vasgelê wat 'n onomstootlike bewys is dat hy nooit, en ek herhaal nooit, op boeremusiek neergesien het nie. Hy is op 26 April 1963, oorlede en is in Piet Retief, naby sy huisie in die berge, ter ruste gelê. 

Hoe lyk dit, Boere, kan ons nie 'n borsbeeld vir hierdie groot seun van ons eie volksmusiek oprig nie?

Hier volg 'n volledige lys van 78-spoedplate wat hy by Gallotone gemaak het tot in Desember, 1951. Die reeksnommers word nie in 'n numeriese volgorde weergee nie:

Stille Diep Rivier
Pragtig mooi en lieflik
GE 495
Boereseun
Getrou aan jou
GE 553
Altyd
Ek wonder wie soen haar vanaand
GE 482
Die Wapad
Die Swaeltjie
GE 480
Die Spook van Dawie Rosekrantz
Hou vir my
GE 459
Fluit 'n vrolike deuntjie
Chibaba Chibaba
GE 457
Die bruilof lied
My wilde rosies
GE 450
Nou is die uur
Saggies klink so 'n melodie
GE 447
Jy, jy, jy
Nou, nou, nou
GE 518
Graskop
Warmwikkel
GE 514
Die waterpan drafstap
Trekklavier
GE 510
Hier moet ons skei
Laat ons dans
GE 443
Ver in die wereld Kitty/Wat maak oom Kalie
daar?
Waar kry jy daardie hoed/Daar kom die wa
GE 442
Ons is almal vriende
Vanaand gaan die volkies
GE 440
Jan Pierewiet
Tant Mina kook stroop
GE 439
Suikerbossie
Wanneer kom ons troudag?
GE 438
Hier's ek weer
Ver oor die see
GE 437
Perdeby
Bobbejaan klim die berg
GE 436
Susan se wisseldans Nr. 1
Susan se wisseldans Nr. 2
GE 381
O,kom na my
Droombeminde
GE 426
Hoe ry die boere
Daar's 'n hoender
GE 425
Die Windmeul draai
In die Vaal rivier se water
GE 350
Die Tukkel Settees (Konsertina W. Bauscher)
Die Welkom wals
GE 507
Tant San van Christiana (Konsertina Neels Steyn)
Die Suikerbrand
GE 506
Die Bootjie na Kammaland
Kom Saam vanaand
GE 503
Rooidagbreek
Op 'n Braaivleisaand
GE 502
Draai Draai Draai
Die Mannetjie
GE 501
Jan, Jan, Jan
Rosie-setees
GE 494
Jy moet weet
In my droomskuitjie
GE 487
Fanie se vastrap
Vyf minute meer
GE 485
Oslo wals
Piet en Hendrik se wals
GE 479
Zuurberg vastrap
Perel se settees (Hierdie kant is deur die Gallotone
Konsertina Orkes)
GE 470
Die Kolonie Wals
Die suikerriet
GE 469
Ons lag, sing en dans
Kliprivier polka
GE 458
Boegoeberg se dam
Die hand vol vere
GE 448
Januarie, Februarie, Maart
Alibama
GE 430
Kaapse draai
My Skat
GE 418
Oom Bossie van die Bosveld
Op'n Braaivleisaand
GE 367
Daar onder in die Kaap
Gertjie is die bruid
GE 366
Die ossewa
Huisie in die berge
GE 339

Met sy laaste langspeelplaat, Hendrik Susan groet julle weer, het hy afskeid geneem van sy geliefde musiekwêreld.

Ons dank aan sy kleinseun, C.H. (Boney) Susan vir die korreksie dat Hendrik se volle name Cornelis Henricus (nie Hendrikus) is. Hy en sy neef het beide hul oupa se name gekry.

Full Name: 
Susan, Cornelis Henricus [Hendrik]
Birth Date: 
1903-05-04
Decease Date: 
1963-04-26

Content type

Artists