Solomon, Saul Benjamin [oom Boy]

Meneer J.H. Visser het die waardevolle inligting oor Oom Boy gestuur:
Saul Benjamin Solomon is op 30 Desember 1878, in die Paarl gebore en is op 9 Maart 1879, in die NG Kerk, Noorder-Paarl, gedoop. Meneer Visser het sy dogter Elizabeth Jacoba Holl, oom Harry Bartz, Mynie Reyes en Joe Sierra besoek en daaruit kon die volgende interessante lewensgeskiedenis van hom saamgestel word.

Boy is met 'n Afrikaanse dame, Catharina du Toit, getroud en vier dogters en twee seuns is uit die huwelik gebore. Sy dogter vertel dat haar vader die konsertina bespeel het vandat sy haar verstand gekry het. Hy was ook ewe vaardig met die klavier, orrel, trekklavier en viool. Hy het hom later net op die konsertina toegelê.

Hy was in diens van die bekende musiekhandelaar, R. Muller, in Kaapstad. Hy het musiekinstrumente herstel en ingestem. Dit was dan ook in hierdie tyd dat hy 'n wonderlike instrument self gebou het. Hy het een deel van 'n konsertina en een deel van 'n akkordeon aanmekaar gelas en 'n uiters suksesvolle instrument op hierdie manier tot stand gebring! Hy het dit baie goed bespeel en almal wat hierdie eienaardige instrument ooit gesien het, het hulle daaraan verwonder. Hy het ook toe twee Lachenal-konsertinas se blaasbalke aanmekaar gelas om 'n groter blaasbalk te kry.

Volgens Joe Sierra was Oom Boy die beste konsertinaspeler wat hy ooit ontmoet het. Hy was 'n ware meester met die instrument wat hy met oorgawe gespeel het, en wat elke nommertjie op 'n ernstige wyse aangepak het om net die beste daaruit te haal. Hy het 'n baie groot repertoire gehad en kon vir aande aanmekaar speel sonder om een nommer te herhaal. Ook Engelse nommertjies wat destyds populer was, kon hy met die grootste gemak op meesterlike wyse vertolk. Hy het op baie plekke in die openbaar opgetree en baie vir liefdadigheid gedoen.

Die volgende spelers het dikwels saam met hom opgetree:

Petrus Nortier : Kitaar
Klaas Langeveld (hy is die vader van die bekende Nico Langeveld) : Kitaar
Klaas Ehlers : Knoppiesakkordeon
Mynie Reyes : Viool
Solly, sy seun : Viool
Johnny, seun : Banjo
Basie Daniels : Viool
Kalie Rix : Viool


Hy het ook dikwels saam met die Ons Landers Orkes gespeel. Hy was 'n sober mens en het geen drank gebruik nie. Sy dogter se dat hy hulle streng opgevoed het, maar tog baie liefdevol was. Tydens 'n verskeidenheidskonsert wat in die stadsaal gehou is, het Sir Patrick Duncan 'n sertifikaat aan hom toegeken vir die pragtige musiek wat hy verskaf het. Volgens sy dogter het hulle vir jare al sy persoonlike dokumente in 'n trommel bewaar, maar toe hulle in die Belgiese Kongo, waar hulle op 'n stadium gewoon het, het dit verlore geraak tydens die opstande. Hulle moes vlug voor die barbare en moes baie van hulle persoonlike eiendom net so agterlaat.

Boy en sy orkes het ook baie uitsendings oor die radio gedoen. Hulle het gewoonlik in Kaapstad opgetree. Sy dogter vertel dat ene meneer Percy Applegates, 'n motorhawe-eienaar, darem destyds al 'n radio kon bekostig en dat hulle altyd by hom gaan luister het wanneer hulle pa se orkes uitsendings gedoen het. Kerstyd het Oom Boy en sy seuns gewoonlik in hulle omgewing Kersliedere vir die mense gaan speel. Sy dogter, Nellie, kon pragtig sing en het dikwels saam met hulle opgetree. Laasgenoemde is reeds tagtig jaar oud en woon tans in Oos-Londen.

Oom Boy se konsertina was 'n uiters groot dubbel-aksiemodel. Hyself was klein van postuur en dit was nogal snaaks om so 'n klein mannetjie met so 'n groot instrument te sien. Hy moes gewoonlik sit as hy hierdie gewigtige instrument hanteer. (Dit was net die omgekeerde met Chris Blignaut: Hy was weer die groot man wat die klein dingetjie bespeel het!) Dit word ook beweer dat baie mense nie gedans het wanneer Oom Boy op 'n plesier gespeel het nie, maar net tevrede was om hierdie briljante virtuoos se vlugtige vingers dop te hou en die wonderlike klanke te geniet.

Ander plate wat Oom Boy gemaak het, is die volgende:

Boy Solomon's Trio Die Parel Duke March
See Saw wals
Boy Solomon en sy Konsertina Drie Vooruit
Winters Wals
Outydse Dansorkes Die Boerewals
Gesellige wals
Velddrifpolka
Mazurka

Oom Boy is op 30 April 1950, te Woodstock oorlede en is in die Woltemadebegraafplaas ter ruste gele. Volgens meneer Visser is die graf, wat hy besoek het, nie van 'n steen voorsien nie. Slegs 'n muurtjie van ongeveer 15 cm hoog is daarom gebou. Moontlik kan ons Klub later aan hierdie wonderlike mens die hulde betuig wat hy so terdeë verdien 

Full Name: 
Solomon, Saul Benjamin [oom Boy]
Birth Date: 
1887-12-30
Decease Date: 
1950-04-30

Content type

Artists