Snyman, Joseph Petrus [Joe]

Ons was in ons noppies toe ons in verbinding kon tree met Joe Snyman se enigste kind, mejuffrou Ada Snyman, van Kimberley. Sy het ons meer inligting in verband met haar vader gegee.

Joseph Petrus Snyman is op 6 Maart 1896, op Klipdam in die distrik van Barkly-Wes, gebore. Hy het daar grootgeword en met die Eerste Wereldoorlog het hy by die Weermag aangesluit en is oorsee. Na sy terugkeer, is hy na Kaapstad waar hy by Evkom gaan werk het. Hier het hy sy neef Gerrit Victor raakgeloop en hulle het by Boy Solomon en Klaas Ehlers aangesluit om 'n briljante orkes te vorm. Dis in daardie dae dat hulle die genoemde plate gemaak het. Hy, Joe, het toe weer teruggekeer na sy geboorteplek en het by die delwery gaan werk. Later is hy Postmasburg toe waar hy nie te lank vertoef het nie. Daarvandaan is hy na Vaalharts waar hy by SCP gewerk het tot en met sy aftrede. Hierdie plekkie by Vaalharts was destyds Andalusia genoem, maar is later herdoop na Jan Kempdorp. Joe was 'n goeie sanger, maar het ook die kitaar, konsertina, mondfluitjie en klavier ewe goed bespeel. Hy was 'n baie gesogte kunstenaar in daardie jare omdat hy ook 'n komediant en toneelspeler was. Hy het op talle plekke opgetree en was veral gewild by ouetehuise waar hy dikwels opgetree het. Hy was ook 'n uitstaande voordragkunstenaar en Ada het nog bande waarop hy lang stukke voordra.

Joe het 'n hele paar sangplate gemaak waarop hy homself met die kitaar begelei het. Die bekendste een is seker Hou jou roksak toe en Die Aap se Bruilof op LE 4. U sal merk dat die drie eerste plate van hierdie groepe vanaf LE 1 tot 3 genommer is en dat Joe toe sommer terselfdertyd sy plaat ook gemaak het.

Oom Piet was baie gelukkig om Joe een aand in lewende lywe te sien. Joe en twee vriende het in die ou bliksaal op Andalusia opgetree. Joe het die konsertina gespeel en is deur twee kitare begelei. Nadat hulle 'n paar pragtige nommers gespeel het, het Joe ewe lustig begin sing en ek hoor vandag nog die nostalgiese ou liedjie:

"Loekie, Loekie, Loekie is jy kwaad
het jou nooientjie jou verlaat
Loekie, Loekie, Loekie kom sĂȘ vir my ou maat
miskien gee ek goeie raad".

Voorwaar herinneringe wat goud werd is! Na sy aftrede, het Joe na Kimberley verhuis waar hy gewoon het tot sy afsterwe op 17 November 1977. Ons innige dank aan Ada vir die foto's wat sy so goedgunstiglik geskenk het. Hierdie stukkie geskiedenis was amper verlore, want ons verstaan dat al die lede van hierdie orkes reeds die tydelike met die Ewige verwissel het.

Full Name: 
Snyman, Joseph Petrus [Joe]
Birth Date: 
1986-03-06
Decease Date: 
1977-11-17

Content type

Artists