Leeson, Carolina
Die Vyf Vatrappers kan waarlik beskou word as die enkele groep persone wat Tradisionele Boeremusiek, soos ons dit vandag ken en lief het, vir die nageslag gedefiniëer het.
Die Vyf Vastrappers was:
Hans Bodenstein (leier) | : Konsertina |
Henry Zeller (mede-leier) | : Konsertina, kitaar, banjo |
Henry Kruger | : Kitaar |
Carolina Leeson | : Klavier |
Stol Leeson | : Banjo |
Carolina Leeson en haar man, Stol, het dikwels saam opgetree. Carolina het haar kleinneef, Henry Zeller, genader wat op sy beurt weer vir Hans Bodenstein betrek het. Henry Kruger was bevriend met Hans en so het die Vyf Vastrappers ontstaan.
Johannes Pieter (Hans) Bodenstein was die leier en het die konsertina gespeel. Henry Zeller was die medeleier en het ook die konsertina, kitaar en banjo gespeel. Henry Kruger was die kitaarspeler terwyl Stol Leeson die banjo gekielie het. Laasgenoemde was ook 'n goeie kitaarspeler. Carolina Margaretha Leeson (gebore Ferreira) het die klavier getokkel.
Carolina is op 13 September 1901, in Jamestown gebore. Van kleins af het haar moeder haar op die traporrel touwys gemaak. Vanaf haar agtste jaar kon sy al redelik goed speel en sy het toe al saam met haar ouers op huispartytjies en konserte begin optree. Haar vader, Gert Marthinus Ferreira, was ook 'n goeie musikant en kon die viool en konsertina speel. Hy was aan die spoorweë verbonde en Carolina het haar jeugjare in Waterval-Boven se wêreld deurgebring. Na skool het sy haar in die verpleegkunde bekwaam en het hierdie edele beroep vir baie jare beoefen. Die syfer 13 het, volgens haar, 'n groot rol in haar lewe gespeel soos ook in die geval van ons oorlye staatspresident, advokaat John Vorster. Sy is op 13 September gebore en is op 13 Oktober 1917, in die kerk as lidmaat aangeneem en daarna op 13 November 1917, met Christoffer John (Stol) Leeson getroud.
Sy vertel dat Stol nie 'n musiekinstrument kon speel toe hulle mekaar ontmoet het nie. Sy het hom die kitaar leer speel en hulle het daarna dikwels saamgespeel. Die aanvraag na dansmusiek was groot en sy het besluit om 'n orkes te stig. Hulle het destyds aan die Oos-Rand gewoon. Sy het met Henry Zeller, haar kleinneef, gepraat wat op sy beurt met Hans Bodenstein bevriend was. Terloops, laasgenoemde is 'n oom van Manie Bodenstein wat vandag nog steeds 'n uitmuntende eksponent van boeremusiek is. Henry Kruger, die kitaarspeler, was weer 'n vriend van Hans en die groepie wat almal destyds in Brakpan gewoon het, het besluit om 'n dansorkes te stig en so het die Vyf Vastrappers ontstaan.
In 1925 het die orkes een aand op 'n partytjie in Brakpan gespeel. Daar was twee onbekende mans wat hulle aandagtig dopgehou het. Later die aand is hulle deur die twee mans genader en versoek om 'n plaat te maak! Hulle stel toe vas dat hierdie manne aan die Regal Plaatmaatskappy verbonde is en seker eers goed na hulle musiek geluister het voordat hulle met die voorstel na hulle gekom het. Die orkes het ingestem en op die eerste dag het hulle twaalf nommers by hierdie maatskappy gemaak! Carolina onthou nog die naam van die regisseur en ingenieur wat betrokke was tydens die opnames. Hy was 'n sekere meneer Matthews. Die musiek is eers op wasplate opgeneem en later is dit na Engeland gestuur waar dit op gewone plate vasgelê is om die GR reeks te vorm. Hulle het later ook opnames by die Columbia Plaatmaatskappy gemaak en die nommers het met AE begin.
Carolina vertel dat sy een besondere nag van 'n mooi melodie gedroom het. Toe sy na die droom wakker word, is sy reguit klavier toe. Sy het daarop begin tokkel en nie te lank nie of sy speel die droomwysie! Hierdie pragtige nommer is as My mooi Carolina bekend en word vandag nog dikwels uitgevoer. Sy het ook baie wysies uit haar kinderjare onthou wat sy by haar ouers gehoor het en dit is gelukkig ook op plaat opgeneem. Toe sy na hulle pragtige Fluister-wals uitgevra is, het sy vertel dat die wals onder hulle orkeslede as die Skelmvry-wals bekend was. Dit is 'n besondere mooi wals en verliefde paartjies op die dansvloer was altyd geneig om in mekaar se ore te fluister wanneer dit gespeel is. Later het hierdie wals as die Fluister-wals bekend geword en is ook so op plaat opgeneem.
Connie met die rooi rokkie is 'n wysie wat na een van Hans se vriendinne vernoem is. Meneer Johnny Driver van Benoni het meegedeel dat die beroemde en bekende Connie sy oupa se suster is. Haar nooiensvan was Driver en sy is later met Sam Warren getroud. Hulle het gereeld gaan dans waar die Vyf Vastrappers gespeel het. Connie het baie van die wysie gehou en was baie lief om in 'n rooi rokkie te dans. Hans het die besondere settees gekomponeer en na haar vernoem. Dit is vandag nog die Konsertinaklub van die SAUK se kenwysie. Die bekende Twee-stap Sammy is na Sammy vernoem.
Connie Warren
Die Vyf Vastrappers se plate is nie net Africana nie, maar het deur al die jare immergroen gebly. Dis onnodig om te se dat die Dagbreek wals, Connie met die rooirokkie, Verlate op die Berge, My mooi Carolina, Die Fluister wals, Hans se Gemmerdans en al die ander so bekend is onder ons Boeremense, soos boeretroos in die oggend.
Die musiek van hierdie orkes word gekenmerk deur die suiwer konsertina klanke en duidelik uitkenbare wysie. DIt word ondersteun deur twee sterk bespeelde kitare, meesterlike banjospel en afgerond met foutlose klavierspel. Dit was ook die eerste orkes wat van twee konsertinas gebruik gemaak het. Dis belangrik om daarop te let dat die eerste plate van hierdie orkes nie titels gehad het nie. Daar is na meeste van die wysies op die plaat etikette slegs volgens die ritme verwys as "Wals", "Settees" of "Polka". Hulle het hierdie kosbare erfgoed by ons voorgelagte gaan haal en het ook sommige van die nommers in die suiwere idioom van hierdie musiek gekomponeer.
Hier volg 'n lys van hulle plate:
Polka |
Regal GR 27 |
Settees Polka (vastrap) |
Regal GR 28 |
Majurka Dagbreek wals |
Regal GR 41 |
Polka Wals |
Regal GR42 |
Eenpas-dans One step Wals |
Regal GR53 |
Polka Setties (Schottishe) |
Regal GR54 |
Die Fluister wals Ek en my Soetlief - setties |
Columbia AE513 |
Brentwood Park-wals Twee stap Sammie (setties) |
Columbia AE514 |
Wals (Met twee konsertinas) Connie met die rooi rokkie - polka |
Columbia AE515 |
Verlate op die berge - setties Barn dans (met twee konsertinas) |
Columbia AE516 |
Jan Pierewiet - mazurka Sarie Marais Medley |
Columbia AE548 |
Die Lekker ding - polka My Suikerpoppie (Barn dans) |
Columbia AE571 |
My Vader was 'n Dopper - wals My Mooi Carolina - wals |
Columbia AE579 |
Dis 'n opwindende ervaring om weer 'n keer te besef dat al die opnames van hierdie orkes, sedert 1930, steeds vir ons behoue gebly het. Dit sal ons - hopelik so lank die Afrikanervolk bestaan - as maatstaf vir tradisionele boeremusiek bestaan.
Die stigter van die orkes, Carolina Leeson, was ook die langslewende lid.
Carolina Leeson ontvang Ere-lidmaatskap van Lourens Aucamp
[foto: Séan Minnie - Kopiereg voorbehou]
Stol en Carolina het ook met die banjo en traporrel die volgende plate gemaak:
Rooi Dagbreek vastrap | Die Oudste-wals |
Die Ou Kalkoen-settees | Oom Willie se settees |
Nadat die Vyf Vastrappers ontbind het, het Carolina weer 'n ander orkes gestig, met die naam van die Plesier Speelers.