Kruger, Jan

Hierdie groepie was baie gewild en die bekende Dawid de Lange het dikwels, tydens plaatopnames, as sanger saam met hulle opgetree. Ons was aangenaam verras toe meneer Chris Kruger, die enigste oorlewende lid van hierdie orkes, ons met hierdie waardevolle inligting gehelp het.

Christiaan Jacobus Phillippus Kruger is op 26 June 1910, op Cookhouse gebore. Hy het op die spoorweë gewerk as laaimeester, en was vir baie jare op Germiston gestasioneer. Sy twee broers, Jan en Willie het ook op Germiston by die spoorweë gewerk en dis daar waar hulle vir Jan Marais, die konsertinaspeler, ontmoet het.

Laasgenoemde was ook aan die spoorweë verbonde. Hulle het begin musiek maak en die orkes was soos volg saamgestel:

Jan Marais : Konsertina
Jan Kruger : Kitaar
Chris Kruger : Kitaar
Willie (Baby) Kruger : Banjo

Baby was ook 'n sanger en het ook dikwels saam met Dawid de Lange opgetree.

Chris vertel dat hy en Jan Marais later swaers geword het. Hulle is met twee susters getroud.

Jan het eers met 'n tweery Engelsekonsertina gespeel maar het later 'n driery aangeskaf. Hulle het dikwels op danse, konserte en bruilofte opgetree en het eenmaal 'n boere-orkeskompetisie in Springs se stadsaal gewen. Daar was baie ander bekende orkeste wat deelgeneem het, maar hierdie groepie het met die louere weggestap!

Hier volg 'n lys van hulle bekendste plate:

Wattles wals 
Hessie se witperd
GE 251
Huistoe-gaan vastrap 
Op die keersy tree 'n ander orkes op
GE 278
Tannie moet nou ja se 
Op die keersy tree 'n ander orkes op
GE 290
By die turksvye settees 
Wapad vastrap
GE 269


Chris vertel dat Hessie se witperd baie gewild was en dat dit ook goed verkoop het. Ons stem saam, want dit word vandag nog dikwels deur boere-orkeste gespeel.

Chris woon vandag nog in Germiston se omgewing waar hy vir baie jare gewerk en musiek gemaak het. Mooi herinneringe uit sy musiekloopbaan sal hom seker altyd bybly. Dankie, Chris, vir jou en jou orkes se besondere bydrae.

Full Name: 
Kruger, Jan

Content type

Artists