van Rensburg, Josephus Daniël [Sewes]

[26 Januarie 1903 - 21 Maart 1949]

 
     
 
Sewes is op 26 Januarie 1903, in Schweizer Reneke, in die Wes-Transvaal gebore. Hy het Faan Harris in 1930 aan die Rand ontmoet en dadelik is 'n hegte vriendskap gesmee.

Sewes was 'n uitstaande kitaar- en banjospeler. Hy was lid van die Vier Transvalers en het vir Faan op al sy plate, wat hy by His Master's Voice gemaak het, met die kitaar begelei. Sewes het ook vir Chris Blignaut begelei tydens 'n paar opnames. In die laat veertigerjare het Sewes sy eie orkes gehad en het gereeld vanaf Tant Betta se Teekamer in Johannesburg aan radio-uitsendings deelgeneem. Kunstenaars soos H. P. Hamman, Marie Chaden, Frederick Burgers en baie ander het aan hierdie verskeidenheidskonserte deelgeneem.

Sewes is in die fleur van sy lewe op 21 Maart 1949, oorlede. Sy dogter, Corra is baie musikaal en bespeel self die konsertina. Sy het al as gaskunstenaar tydens 'n Konsertina- klubuitsending saam met Willie Fourie en sy orkes opgetree. Sy is met die bekende Manie Bodenstein getroud. Sy het die voorreg gehad om baie van die ou musikante deur middel van haar vader te ontmoet.

Sewes se vrou vertel die volgende verhaaltjie: Sewes het een oujaarsdagaand saam met Faan en sy maats by 'n dans gaan speel. Dit was natuurlik 'n "deur-druk-na-dag-toe" partytjie en hulle het eers die volgende oggend teruggekom. Sy vrou was net baie omgekrap omdat hulle so laat was en het die pad die volgende oggend met arendsoë dopgehou. So teen agtuur het sy skielik vrolike boeremusiek gehoor en gesien hoe Faan, Sewes en twee maats die straat afkom en sommer so loop-loop musiek maak! Sy het hulle die huis laat binnekom en met 'n slaanding op hulle afgestorm terwyl sy hulle die leviete voorgelees het! Hulle het so geskrik dat hulle dadelik die hasepad gekies het! Hulle het egter almal later heerlik oor die "kwaai vrou" se waarskuwing gelag.

Die musiekmaakgedagte het seker maar van oom Faan se kant af gekom, want dit was ook sy modus operandi toe oom Boet Steyn hom moes soek toe hy verdwaal het! Ja, Langenhoven se spreekwoord is tog baie waar: "Vandag se moeilikhede is die grappe van môre! "

Die volgende egte boeremusiek is deur Sewes vir ons nagelaat. Hy het die melodie-kitaar gespeel.

Ou Sewes se setees
Boere mazurka
AC 704
Sannie se vastrap
Ou Dan se wals
AC 714
Ou Roelf se polka (hier bespeel by die banjo)
Klerksdorp se wals
AC 720
Kaapse wals
Booysens polka
AC 745

 

Full Name: 
van Rensburg, Josephus Daniël [Sewes]
Birth Date: 
1903-01-26
Decease Date: 
1949-03-21

Content type

Artists