Lydenburg Vastrappers, Die

Hierdie klompie uitstaande musikante se orkes was soos volg saamgestel:Christiaan Willem (Chris) Chomse (Leier): KonsertinaKlaas Alexander Erasmus: KlarinetGeertruida Zacharyda Magdalena (Baba) Winterbach (geb. Prinsloo): KlavierChristiaan Willem (Chris) Winterbach: KitaarDie orkeslede was almal verwant aan mekaar. Chris Chomse en Klaas Erasmus was albei neefs van Baba, en Chris Winterbach en Baba was man en vrou.Meneer Dirk Winterbach van Witbank word sommer aan die begin van hierdie hoofstuk bedank vir die volledige inligting en fotos waarmee hy gehelp het. Hy vertel dat gerugte dit wil hê dat nie een van die orkeslede eintlik enige musiekopleiding gehad het nie. Hulle het hulle maar self leer speel en so goed gevorder dat hulle later die orkes gestig het. Hulle was gou baie gewild in Lydenburg en omgewing, en het by talle gesellighede opgetree. In 1934 het hulle die volgende plate in Johannesburg gemaak wat onder 'n Singeretiket verskyn het:Bosveld PolkaMampoer SetteesSinger GE 208Golfies PolkaBaba Wals (na Baba vernoem)Singer GE 209Wissel PolkaNoodshulp - VastrapSinger GE 211Platina PolkaLoerie WalsSinger GE 466Hierdie groepie se musiek het ietwat verskil van die gewone boeremusiek van daardie jare omdat hulle 'n klarinet in die orkes ingesluit het. 'n Groot kenner en eksponent van boeremusiek, wyle dr Hans la Grange, het hulle musiek as puik beskou en het 'n grootwaardering daarvoor gehad. As 'n mens met die nodige aandag na hierdie besonderse boeremusiek luister, kom jy dadelik onder die indruk van hulle pragtige en vloeiende samespel. Die klarinet se strelende klanke herinner dadelik aan 'n pragtige bewolkte sonsondergang. Dis kunstig ingeweef by die melodie en sorg vir die nodige versiering en afronding van 'n smaaklike musiekdis, so reg uit ouma se geurige kombuis! Dis net 'n groot jammerte dat hierdie kunstenaars nie meer plate nagelaat het nie. Dit kan ook met groot sekerheid aanvaar word dat die meeste van hierdie melodieuse wysies die skeppinge van die orkeslede was. .Chris Chomse se vader het uit Duitsland na Suid-Afrika gekom en hom hier gevestig. Chris het hier in ons land grootgeword en was 'n Boer in murg en been. Hy het egter in 1938 na Kenia geëmigreer en is in 1947 daar oorlede en te Eldoret begrawe.Dr Kobus Erasmus van Ladysmith het van sy vader, Klaas Erasmus, vertel. Klaas is op 3 Julie 1902, op die plaas Grootboom, in Lydenburg se distrik, gebore. Hy was die seun van die bekende Abel Erasmus na wie die Abel Erasmuspas vernoem is. Reeds vroeg was dit duidelik dat die jonge Klaas besonder intelligent is, en hy was dan ook die eerste seun in daardie kontrei wat matriek geslaag het! Hierdie prestasie het hom twee byname besorg! Sommige mense het hom "Klaas Matriek" en ander weer "Slim Klaas" genoem! Hy is vir verdere studies na die Universiteit Stellenbosch, waar hy hom as onderwyser bekwaam het. Hy het egter nooit skoolgehou nie, maar het saam met sy vader gaan boer.Dr Kobus vertel die volgende staaltjie: Terwyl Klaas op universiteit was, het die Groot Griep-epidemie uitgebreek. As gevolg van hierdie siekte moes die universiteit tydelik sluit omdat so baie van die studente en personeel siek was. Klaas het die "vakansie" verwelkom en dadelik by sy ouers gaan kuier. Kort na sy aankoms op die plaas het die epidemie ook sy kop daar uitgesteek! Dadelik het arme Klaas die skuld daarvoor gekry en die mense het vertel dat hy die "kieme" van die siekte daar versprei het! Klaas is op 'n jeugdige ouderdom aan die einde van 1934 oorlede en is te Lydenburg begrawe.Hendrik Susan en Klaas was groot vriende en het dikwels saam musiek gemaak. Dr Kobus het 'n foto van hierdie twee vriende gehad, maar ongelukkig het dit verlore geraak.Baba Winterbach is op 23 April 1899, op Lydenburg gebore en is op 17 April 1960, te Pretoria oorlede. Sy is in Lydenburg begrawe.Chris Winterbach is op 2 Septemer 1891, te Lydenburg gebore en is op 21 Junie 1978, aldaar oorlede waar hy ook ter ruste gelê is. Dus, laasgenoemde drie, is almal op Lydenburg begrawe. Ons Klub het besluit om ook aan hierdie vier uitstaande musikante hulde te bring en op 1 Maart 1986 is 'n gedenknaald ter ere van hulle op die hoek van Voortrekkerstraat en Viljoenstraat opgerig. Nog 'n mylpaal in ons Klub se bestaan waaroor ons baie trots is!Volledigheids- en interessantheidshalwe moet die volgende brokkie ingesluit word: Aan die einde van Die Platina polka skree iemand lustig: "Regop, julle rooies". Al gewonder wie dit is? Dit is die einste Chris Chomse wat, nadat hulle so lekker gespeel het, hom net nie kon bedwing nie!

Content type

Group name