Japie Laubcher

Japie is op 3 Junie 1919, in Woodstock, Kaapstad, gebore. Op veertienjarige ouderdom het hy by die poskantoor in Kaapstad, begin werk en is later bevorder tot radiolisensie-inspekteur. Hierdie pos het hy beklee tot en met sy aftrede. Japie se enigste dogter, Gerda, het my baie gehelp met inligting oor hierdie beroemde konsertinaspeler.Toe Japie sestien was, het sy ouer broer Jacobus, vir hom 'n tweedehandse boerekonsertina present gegee wat hy vir 'n daalder (15c) by 'n kerkbasaar gekoop het! Japie was oorstelp van vreugde en het sommer dadelik begin oefen. Hy het baie vertel dat hy sy talent by sy vader en 'n oom, Klaas Tolletjies geërf het. Japie, wat nooit musiek kon lees nie, het gou-gou die boerekonsertina bemeester en toe begin dink aan 'n Engelsekonsertina. Die groot struikelblok om 'n nuwe Engelsekonsertina in die hande te kry was natuurlik die verskriklike hoë prys daarvan, naamlik tien ghienies! (In vandag se taal is dit R21,00.) Japie het 'n pragtige een in 'n winkelvenster gesien en dae geloop en planne beraam hoe om dit in die hande te kry. Eendag het hy egter al sy moed bymekaar geskraap en na sy baas, meneer Joe Taylor, gestap en hom van sy probleme en begeerte vertel. Meneer Taylor was baie simpatiek en het, na aanhoor van Japie se storie, hom onmiddellik die verlangde bedrag voorgeskiet! Japie was letterlik in die wolke en vanaf daardie heuglike dag was daar geen keer aan hom nie. Hy het dag en nag geoefen en gou sy eerste orkes op die been gehad.Japie het sy eie kenmerkende styl met die konsertina gehad en daar is feitlik nie een boeremusiekliefhebber in die land wat nie dadelik sal weet wanneer hy Japie se musiek hoor, dat dit hý is wat daar speel nie.Dit is baie treffend as 'n konsertinaspeler sy eie styl ontwikkel en deur die jare daarby hou. Ongelukkig kry ons vandag onder die jonger spelers die neiging dat hulle graag iemand, wat hulle as puik beskou, wil naboots. Hulle eie style ly daaronder, en sogenaamde "kenners" van konsertinamusiek kan dan nie maklik die verskillende spelers se musiek uitken nie. Ek stem met Langenhoven saam dat'n na-aper self nie eers 'n goeie aap is nie! Japie se musiek het sommer van die begin af byval by die volk gevind, want hy het nie net die ou tradisionele wysies gespeel nie, maar ook ons tradisionele musiekskat verryk met honderde van sy eie komposisies wat in dieselfde idioom gespeel is. Aan die einde van hierdie hoofstuk gee ons 'n volledige lys van al sy komposisies soos dit by SAMRO geregistreer is.Een aand het Japie die dood letterlik met duime vrygespring. Hy was op 'n voorstedelike trein vanaf sy tuiste na Nuweland op pad om by 'n huispartytjie te gaan speel. Toe hy by Soutrivierstasie reeds van die trein afgeklim het, val dit hom by dat hy sy flits in die trein vergeet het. Dadelik klim hy terug om dit te gaan haal, maar net toe trek die trein skielik vinnig weg. Die deur van die trein waaraan hy vashou, swaai oop en daar hang Japie, een hand stewig aan die trein en in die ander die konsertina waaraan hy so moeilik afbetaal! Hy sien ook dat die perron onder hom weggraak en dat hy teen die volgende perron, as hy sou aanhou hang, doodgestamp sou word. Intussel snel die trein teen 'n hoë spoed voort en daar bly net een keuse oor: Spring! Langer tyd om te dink was daar nie, en hy spring toe maar! Half bewusteloos en die ene pyn beland hy op die ballasklippe van 'n ander treinspoor. Skielik word hy, so tussen die pyne deur, yskoud, want hy staar in die verblindende lig van 'n aankomende trein vas! Met al die krag en moed wat hy kon bymekaar skraap, slaag hy net betyds daarin om voor die trein weg te rol. Met groot verligting sien hy hoe die trein oor die plek gaan waar hy 'n sekonde gelede gelê het. Met 'n gebreekte skouer been en ses gebreekte ribbes het hy skeef-skeef, maar baie dank baar, huis toe gesukkel.Vriende, glo dit as u wil, die konsertina was ongeskonde en veilig in sy onbeseerde hand! Hierdie nagmerrie-ondervinding het hom baie jare bygebly.Japie het jare na hierdie voorval weer, as gevolg van sy konsertina, 'n terugslag gehad. Hy was een aand besig om opnames vir die SAUK te maak toe 'n Engelse dame, wat met die opnames gehelp het, aan hom sê dat hy teen 'n stadiger pas moes werk. Hy het juis daardie besondere aand vier en twintig van sy eie komposisies laat opneem. Vir iemand wat nie musiek lees nie en net op sy geheue moet staat maak, is dit 'n geweldige moeilike versoek. Japie het egter voortgegaan en klaargemaak, maar twee weke lank was hy in die hospitaal as gevolg van "senuweespanning".Om te illustreer hoe musikaal hierdie begaafde man was, moet die volgende outentieke storie vertel word. Terwyl hy in die hospitaal was, het die verpleegster hom een aand wakker gemaak en gesê dat as sý musiek kon skryf, sy die mooiste musiek op aarde nou sou kon neerskryf. 'n Verbaasde Japie wou toe van haar weet wat sy nou eintlik bedoel. Sy vertel toe vir hom dat hy in sy slaap diemooiste melodie gefluit het wat sy nog ooit gehoor het! Japie was 'n vrugbare komponis van boeremusiek. Hy het op een dag agt wysies gemaak! Hoe hy alles kon onthou, sou net hy geweet het.In die Eeufeesjaar van 1938 het hy as konsertinaspeler saam met die stadsorkes van Kaapstad opgetree in die eerste Afrikaanse opera, "Die kleed van Tafelberg" van professor Clouts. Hy sê hy het heerlik gespeel, want hy het 'n groot orkes agter hom gehad!Japie se musiek was in elke Afrikaanse huis gewild - vanaf sy geliefde Kaap tot in die verste uithoeke van die land. As radio luisteraars sy kenwysie, Die ou Waenhuis, gehoor het, het hulle geweet hulle kon hulle klaarmaak vir heerlike, aangename, en van die beste tradisionele boeremusiek.Japie het baie gereis as gevolg van sy werk en het dan die plekke wat hy besoek het se name vir sy komposisies gebruik.Japie was 'n meester van die boerekonsertina. Versamelaars wat nog van sy plate het wat hy met die boerekonsertina gemaak het, moet dit tog asseblief soos goud bewaar, want dit is uiters waardevol. Hy kon ook goed sing en was veral lief om te jodel. Volgens sy dogter het hy ook 'n paar sangplate vir ons nagelaat. Hy was ook 'n goeie kitaarspeler en het homself daarmee begelei wanneer hy gesing het. Hy is ook soms "The yodelling postman" genoem. Japie was lief vir sy volk en sy kultuur. Hy wou op 'n stadium ophou speel, maar in 'n brief aan SAMRO, waarin hy as lid geregistreer het, sê hy die volgende: "Ek wou ophou speel, maar toe kom die roepstem van my Afrikaanse volk en Boerenasie wat vandag nog my musiek nodig het, en dis ter wille van hulle, dat ek besluit het om voort te gaan":Toe Japie verneem dat ons eertydse geliefde Staatspresident, adv C.R. Swart, baie van boeremusiek hou, het hy 'n hele stel van sy plate, in 'n pragtige omslag, aan hierdie groot seun van ons volk oorhandig. Nodeloos om te sê dat dit vir albei 'n onvergeetlike dag was. Ons bedank meneer J.H. Visser van Milnerton vir die pragtige foto van hierdie geleentheid en vir die afskrif van 'n brief wat Oom Blackie aan hom geskryf het.Ja, ons Boere kan maklik stry, maar as dit by boeremusiek kom, praat almal dieselfde taal!Japie was 'n baie netjiese mens en het in 'n ewe netjiese huis in Milnerton gewoon. Hierdie huis het die treffende naam "Al-Te-Bly" gehad! Ek weet sommer dadelik wie aan hierdie besondere naam gedink het!Hy was ook 'n gelowige mens en het altyd saans voor hy gaan slaap het eers uit die Bybel gelees en gebid. Hy was lid van die NG Kerk en sy plek was Sondae nooit leeg nie. Tiewie Fourie, die beroemde banjospeler, het bykans dertig jaarsaam met Japie opgetree. Hulle was boesemvriende. Tiewie beskou Japie as 'n ware heer. Ook Mynie Reyes, Harry Bartz en baie ander musikante van die Kaap praat net met die grootste lof van Japie. Dis baie interessant om te weet wie die Ysterplaat Kêrels was wat Japie op sy eerste plate begelei het. Japie het natuurlik die konser tina gespeel, en die res van die orkes was:Louis Fourie: basvioolOom Jaap en tant Sus Opperman: kitaarTiewie Fourie: kitaar, banjo en basvioolAnder spelers wat later saam met hom opgetree het, was:Jean du Plessis: kitaarJannie Fourie: trekklavierHenry Nieuwoudt: trommeSyd Wearn: saksofoonRonnie Viljoen: saksofoonCharlie Hamilton: saksofoonJannie Combrinck: basvioolJoey Fourie: kitaarWally Wagner: kitaar en konsertinaRonnie Theron: trekklavierFritz Schelhase: trekklavierTienie Versveld: trekklavierBasie Beyers: mandolienMynie Reyes: viool Loutjie de Jager Dougie Botes: basviool: trekklavierJapie was baie gewild en het op baie plekke opgetree. Danie van Eeden van die SAUK het ook met hom kennis gemaak en dit het in 'n hegte vriendskap ontwikkel wat jare geduur het. Japie het baie uitsendings vir die SAUK gedoen en dikwels, ná so 'n uitsending, het Danie sommer by Japie oornag. Japie se gasvryheid het hy seer sekerlik van sy ouers geërf, want hulle huis was altyd vir almal oop. Japie het ongeveer een en twintig van die 78-spoedplate (solo sewes ingesluit) en sewe en dertig langspeelplate gemaak. Hier volg 'n lys van sy komposisies soos by SAMRO aangeteken:AaitsaAan die brandAda sêAgter die BultAl te blyAldamAlla wêreldAnnadasAnnaleenAppelliefie Arrie neeAsseblieftogAttie se polkaDorptoeDou voor dagDriehoekDroërivierEensaam wals Eina einaEk sêEk staar na die verteElandsvleiFonteintjie settees Geluk met die nuwejaarGemsbokGerdaBettie sê Botswana Japie kappit uitBleshoender setteesBlikbord setteesBlou oog Sanna BloubergstrandBoebpens BoerekonsertBoeretroosBoeskopBoesmanlandBokveld setteesBokveldbergDie Boland Bont hondBontrok polkaBoplaasBrompieBruinoogBruisende watersBy die damBy die treurende wilger By die watervalChris en JanDaantjie Dik dood Daar val die aapDakmossie setteesDankie SankieDassie draal DeurmekaarDiep in my hartDik Dawid settees Dink aan myDis twaalfuurDoringkloofGertjie my GertjieGlimlagGroeneveldeHanekraai om die draal Hansie KapansieHennie se walsHeuning maan Hoe lyk die setteesHoe lyk ditHoe nou Hoe ry die treinHoedjiesbaai Hou soHouwhoekHuismolesHuisrivier polka Ida kwadrielIn die groen valleiIn die ou spookhuis Jaap se polkaJacob RegopJampa se polka Jan DoppiesJapie se draai Japie se vastrapJela se kwadrielJolla se polka Jongman walsJotta se polkaJou Flerrie Jou vabondJulia se polkaKadoesbroek Kamiesberg setteesJapie het baie dikwels vir liefdadigheid opgetree en van die beste kunstenaars gebruik om hom by te staan. By een só 'n geleentheid het die bekende Cecilia Wessels in dieselfde program opgetree. Japie se bydraes was so gewild dat hy daardie besondere aand vyf maal teruggeroep is deur die juigende gehoor! Op 6 April 1981, het Japie ons ontval. Ons Boere het een van ons gewildste konsertinaspelers verloor, maar gelukkig het hy vir ons 'n onskatbare erfenis nagelaat.As ons na sy aantal plate en komposisies kyk, besef jy onmiddellik wat hy werklik vir ons kultuur gedoen het. Japie, ons salueer jou!

Full Name: 
Laubcher, Jacob [Japie]
Birth Date: 
1919-06-03
Decease Date: 
1981-04-06

Content type

Artists