Ernest Geel

My volle name soos wat ek dit gekry het by geboorte is, Ernest Maxwell Geel, gebore 10 Mei 1961. (Ek kan nie onthou watter dag nie, want ek was nog te klein)
 
'n Kapenaar van geboorte, maar van 10jarige ouderdom af groot geword in die Karoo. Van Hutchinson, Victoria-Wes, Ladismith, Touwsrivier tot weer in Beaufort-Wes, waar ek my skoolloopbaan klaargemaak het in 1979.
 
My pa was n groot boeremusiek liefhebber en hy het nie 'n dag gemis om om na sy boeremusiek te luister nie. Van laerskooljare af het ek vir myself gesê dat ek ook eendag boeremusiek wil speel, al is dit net kitaar. My pa kon self kitaar en dan ook die mondfluitjie speel. Ek het my verluister as hy die kitaar vat en die mondfluitjie daarmee saam. Van sy familie se kant af, soos wat ek verstaan, was sy pa sowel as van sy broers baie musikaal wat ook boeremusiek gemaak het.
 
Aan my ma se kant, was haar familie net so musikaal. Haar broers en swaer kon ook die kitaar lekker tokkel. My oupa-hulle (aan my se kant) was plaasmense op n plaas net buite Worcester. Ons het gereeld daar gaan kuier en dan het die familie so ook op gereelde basis, 2 tot 3 keer 'n jaar bymekaar gekom waar daar musiek gemaak is en in die waenhuis of motorhuis gedans word. Dit was een groot fees.
 
In my matriekjaar kry ek toe n kitaar by my oupa wat my oom nie meer wou hê nie omrede die kitaar skade gehad het. (Brazilian Classic Guitar 1972 model). Ek leer toe speel met behulp van my pa en my een oom. Net eers die basiese drukke ( akkoorde). Aan die begin het ek almal in die huis deurmekaar gehad met al die vals note en slap drukke, wat vir almal 'n nagmerrie was, behalwe vir my.
 
So het ek dan later begin saamspeel met boeremusiek plate ( langspeel LP's) meestal kitaar musiek soos Jan Brits, Danie Barnard, Solly Marx, ens. By geleenthede het ek en my pa dan ook saam gespeel waar hy die mondfluitjie doen en ek kitaar.
 
Na my troue in 1985 in Beaufort- Wes, word ek deel van die kerk orkes as kitaarspeler waar ek my talent vir die Here uitleef. In 1995 verhuis ons Prince Albert toe en daar begin ons toe later 'n plaaslike orkessie bestaande uit 4 musikante onderleiding van oom Hannes Fourie, die plaaslike garage eienaar en werktuigkundige as Keybord speler, Kosie Esterhuizen, bestuurder van die plaaslike Ouetehuis as dromspeler en Johan Rheeder, plaaslike bankbestuurder en seun van wyle oom Freddie Rheeder as mede kitaarspeler, waar ons by skool funksies, Ouetehuis en plaaslike kerkbasaars optree.
 
In 1999 trek ons Paarl toe en word ek later deel van die kerk orkes. In 2007 sluit ek aan by die plaaslike Boeremusiek Gilde. In 2008 word ek ingetrek om saam te speel in 'n orkes vir Boeremusiek kompetisies tot sovêr in 2011.
 
In 2010 speel ek toe saam met Piet Visser in die Vat 5 orkes, waar ons ook deelneem aan die Boeremusiek opname op TV "Vastrap" en word ons genooi om ook deel te wees van 'n fees optrede by die Voortrekker Monument in Pretoria as deel van die Boeremusiekgilde se mondigwordingsjaar.
 
In hierdie orkes het ek dan ook die voorreg gekry om saam met die legendariese oom Stompie Heins in 'n orkes te kan speel. Dit was vir my n groot mylpaal in my lewe by die Gilde se feesvieringe by Voortrekkerhoogte en daar om van die groot musikante te kon ontmoet, soos wyle oom Manie Bodenstein, Nico van Rensburg en ander.
 
Met deelname aan die Gilde se jaarlikse kompetisies, ontmoet ek ook vir oom Freddie Rheeder, oom Marius Louw, oom Allen Green, Prof Langpiet die Villiers en ander.
 
Gedurende 2012 sluit ek aan by die Kaapland Boereorkes as kitaarspeler waar ek deel word van 'n span puik musikante, onderleiding van Daantjie Kotze. Soos die jare aanloop het ons gegroei en kan ek vandag net die Hemelse Vader die eer gee vir die talent en met trots sê dat ek deel is van 'n Bo-baas Top orkes.
 
Hier het ek dan ook die voorreg gekry om bevriend te raak met wyle oom Willie Nelson van die Namakwalanders en kan ek vandag dankie sê aan Daantjie Kotze en Kaapland Boereorkes om my deel te maak van hul span.
 
Groete
Ernest
Full Name: 
Geel, Ernest Maxwell
Birth Date: 
1961-05-10

Content type

Artists