Oom Kerrie Bornman

Hierdie uitmuntende musikant het sy eerste lesse in verband met die speel van 'n boerekonsertina by sy oudste broer gekry. Nadat hy dit behoorlik bemeester het, kon hy dit letterllk laat lag en gesels.

Oom Kerrie is op 11 Maart 1891, op De Deur naby Vereeniging, gebore. Hy vertel met smaak dat hy aan die beginjare sy broer se konsertina gesteel het om daarmee te oefen. Sy broer het dit te hore gekom en hom toe maar gehelp om dit behoorlik onder die knie te kry. Hy was baie musikaal en het vinnig gevorder en het, myns insiens tot een van ons land se beste boerekonsertinaspelers ontwikkel.

Hy was ook lank op die diamantdelwerye in Lichtenburg se wêreld en dis daar waar hy die bekende Hier wil ek nie bly nie so pragtig begin speel het. Hy het dit gewoonlik gesing: "Hier wil ek nie bly nie, want 'diamonds' kan ek nie kry nie".

Hy vertel ook dat sy broer Chrisjan Blik Parys gekomponeer het. Hierdie liedjie het sy oorsprong in Parys gehad. In die depressiejare het baie Blankes aan die spoorlyn tussen Dover en Parys gewerk. (Hierdie Parys is natuurlik in die goeie OVS geleë.) Hulle was almal baie arm en het in klein sinkhuisies langs die spoor gewoon. Chrisjan het hierdie sinkdorpie "Blik Parys" genoem. Oom Kerrie vertel ook dat die mense in daardie jare, alhoewel baie arm, baie vriendelik, mededeelsaam en plesierig was.

Die lekkerste partytjie waarop hy ooit gespeel het, was in 'n waenhuis in Losberg. Hy het man-alleen met die boerekonsertina gespeel en die mense het só lekker gedans dat die stof letterlik getrek het! Die stof moes kort-kort effens natgesprinkel word en die ouer mense kon ook so 'n bietjie lafenis kry van iets wat mampoer genoem is!

Oom Kerrie was natuurlik ewe tuis met die Engelsekonsertina. Versamelaars wat van hierdie plate in hulle besit het, kan hulleself baie gelukkig ag. Afgesien van die konsertinas kon hy ook die banjo, kitaar, klavier, orrel en kornet bespeel.

Hy het geglo dat 'n boerekonsertina werklik eers tot sy reg kom met die begeleiding van 'n trapmusiek. (Dis nou eintlik die huisorreltjie of harmonium.) Dis 'n bekende feit dat hierdie twee instrumente pragtig harmonieer.

Oom Kerrie se familie was baie musikaal. Sy broer Dolf het saam met hom kitaar gespeel terwyl Chrisjan, soos reeds gesê, ook 'n goeie konsertinaspeler was. Sy oudste suster Poppie, kon die huisorreltjie laat dreun. Sy en 'n ander suster Kotie, is later met twee Christie-broers getroud, óók baie musikaal en uitblinkers met die viool. Hierdie groepie het toe sommer 'n uithaler familie-orkes gevorm.

Ná Oom Kerrie se jong swerfjare, sluit hy in 1931 by die stadsraad, Krugersdorp aan, waar hy tot sy aftrede getrou werksaam was. Hy is in 1929 op betreklike gevorderde leeftyd getroud. Hy en sy vrou Johanna, is die ouers van die baie bekende kitaarspeler, Ricardo Bornman. Interessant: Pa en seun se name word nie eners gespel nie. Ricardo het die ou familiebybel opgespoor en toe vasgestel dat die familienaam nie Regardo is nie, maar wel Ricardo. Hy het toe sy naam só laat verander.

Oom Kerrie was reeds drie en sewentig jaar oud toe hy sy laaste opnames gemaak het. Hier is 'n lys van sy bekendste nommertjies:

Hier wil ek nie bly nie
Pietersburg-mazurka
Blik Parys
Lekker Hendrik-settees
Vrystaat Bo-wals
Wolwehoek-mazurka
Oom Frits se polka
Oom Tien se settees
Vrystaat Verlange - wals
Hier wil ek nie bly nie
Pietersburg-mazurka
Blik Parys
Lekker Hendrik-settees
Vrystaat Bo-wals
Wolwehoek-mazurka
Oom Frits se polka
Oom Tien se settees
Vrystaat Verlange - wals
Oupa se wals
Bosbank-settees
Tot Dagbreek-settees
Ou Parys-polka 
Bosbank-polka
Strand wals
Wolwehoek-settees
Misvoet-vastrap
Witvoet-polka

Hy is op 77-jarige ouderdom oorlede.

Full Name: 
Bornman, Regardo [Oom Kerrie]
Birth Date: 
1891-03-11

Content type

Artists